M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Latest Post
  • Latest Post

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Nuutste Plasing
  • Nuutste Plasing

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2001 | Diagnose en Vasberadenheid: Om Borskanker te Trotseer en ’n Gevoel van Normaliteit te Vind

Apr 28, 2026 | Joernaal, Kanker | 0 comments

Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

Na die mastektomie het ek my oorblywende siekteverlofdae voor die televisiestel omgesit, te mismoedig om met my lewe voort te gaan. Dit was moeilik om te bad en aan te trek met al die dreineringsbuise wat ek moes saamsleep. Nie dat hierdie dinge saak gemaak het nie, want in die nadraai van daardie winter was dit steeds baie koud, en ek het nie die nodigheid ingesien om my warm pajamas uit te trek nie, aangesien ek nêrens heen wou gaan nie. Tydens my eerste besoek aan die chirurg twee weke na die mastektomie, was hy baie tevrede met my vordering. Die dreinerings buise is verwyder, en ek kon demonstreer dat ek reeds my arm bo my kop kan hou, en my tande en hare kon borsel. Ek het nietemin voortgegaan om die battery-aangedrewe tandeborsel wat die kinders vir my na die mastektomie gekoop het, te gebruik terwyl ek gelees of televisie gekyk het, tot hulle groot irritasie!

Die toetsresultate van die patologie-laboratorium wat na die operasie ontvang is, het die diagnose van Indringende Lobulêre Karsinoom (ILC) bevestig. Ek het eers onlangs die kliniese verslae wat verband hou met die diagnose en behandeling wat ek in 2001 ontvang het, in die hande gekry en bestudeer. Ek het nou eers uitgevind dat hierdie inligting vir alle kankerpasiënte destyds reeds gesentraliseerd was en steeds beskikbaar is by die Nasionale Kankerregister.

Wat ek uit daardie verslae en die lees van artikels verwant aan die onderwerp wat deur my onkoloog aanbeveel is, wys geword het, is dat ILC 'n tipe borskanker is wat in die melkproduserende kliere (lobule) begin, anders as die meer algemene duktale karsinoom wat in die melkbuise begin. ILC-selle groei dikwels in lyne of verspreide patrone, wat nie maklik is om op te spoor op ‘n mammogram nie. Anders as duktale karsinoom, wat gewoonlik as 'n duidelike  waarneembare knop voorkom, manifesteer ILC soms slegs as 'n velverdikking, wat opsporing deur selfondersoek moeilik maak. Dit beteken dikwels dat ILC moontlik eers in 'n later stadium opgespoor kan word.

Ek was inderdaad gelukkig dat die radioloog die onreëlmatigheid op die mammogram bemerk het, en dat ek as gevolg daarvan in die sorg van 'n ervare chirurg beland het wat genoeg vir sy pasiënt omgegee het om te verseker dat ek die beste moontlike sorg ontvang het. Dit het in my geval gelei tot vroeë opsporing en behandeling van die borskanker.

Alhoewel die chirurgiese en patologiese spanne geen tekens van metastase tydens die operasie en daaropvolgende laboratoriumtoetse gevind het nie, was dit nie 'n 100% waarborg dat daar nie reeds metastatiese selle in my liggaam versprei het nie. Daarom het die chirurg my na 'n onkoloog verwys vir verdere toetse en om my geval te evalueer. Hy het my ook gewaarsku dat chemoterapie as 'n vorm van voorkomende behandeling bes moontlik vir my voorgeskryf sou word.

Kort daarna het ek my eerste afspraak met die onkoloog gehad. Maar ek moes eers nog 'n paar uur by verskeie afdelings van die kliniek deurbring vir bloedtoetse, X-strale van my longe, ultraklankvideo-opnames van my hart en ingewande. Dit het gevoel asof my binnegoed omgekeer en vir inspeksie uitgestal is. Vir my, 'n ware beheervraat, was dit 'n verskriklike ervaring om so hulpeloos en blootgestel te voel. Gelukkig was al hierdie fasiliteite onder een dak beskikbaar, en die personeel was professioneel en vriendelik.

Al die toetsuitslae het daarop gedui dat my organe gesond was en korrek funksioneer. Die onkoloog het egter ook bevestig dat ek chemoterapie as 'n voorkomende maatreël sou moes ontvang, aangesien borskanker bekend is vir vroeë "uitsaaiing" (verspreiding van kankerselle in die liggaam), en die behandeling sou daarop gemik wees om enige kankerselle wat nog in my liggaam teenwoordig mag wees, te vernietig.

Wanneer ek na al die jare terugkyk oor daardie tydperk, betreur ek die feit dat die PET-CT-skanderingfasiliteit wat deesdae gebruik word om kankerselle in die liggaam op te spoor, eers 'n paar jaar later vir die publiek beskikbaar was. Ek wonder of ek dalk die trauma van voorkomende chemoterapie destyds kon vrygespring het as so 'n skandering vir my beskikbaar was. Ek spandeer egter nie te veel tyd om oor hierdie moontlikheid te peins nie. My onkoloog verseker my dat ek die beste moontlike behandeling ontvang het wat destyds vir my beskikbaar was, en ek verkies om eerder daarvoor dankbaar te wees.

Ek het besef daar het nog baie donker dae voorgelê. Ek was nog altyd 'n baie private persoon, en ek was nog nie gereed vir ander mense se "inmenging" in my lewe nie. By die kantoor het slegs daardie kollegas in die departement waar ek gewerk het van die mastektomie geweet, en dit was hoe ek dit verkies het. Ek was nie lus om vrae te beantwoord of my prognose te bespreek nie, iets waaroor ek self in elk geval nog geen duidelikheid gehad het nie.

Ek moes nog self eers die idee van kanker verwerk. Boonop is ek een van daardie mense wat dit haat om enige swakhede te beken en ten toon te stel. Ek het net gehoop dat my lewe so gou as moontlik na die gewone alledaagse leefstyl sou terugkeer. Dit het 'n uitdaging geword, die doelwit wat ek so gou as moontlik wou bereik.

Met die swaard van die komende chemo-sessies wat oor my kop gehang het, kon ek nie die gedagte verduur om rond te hang en niks te doen wat die moeite werd is nie. Ek het die enigste opsie gekies wat vir my sin gemaak het in 'n wêreld wat skielik onderstebo gekeer is. My werkgewer, en veral my departementshoof, was baie tegemoetkomend en het my van 'n skootrekenaar voorsien om van die huis af te werk. Ek het ook weer begin kantoor toe gaan wanneer ek daarvoor kans gesien het.

Om besig te wees by die werk het my gedagtes weggeneem van my nuwe kankerwêreld af. Dit het 'n sekere mate van normaliteit na ons gesinslewe teruggebring. Corné het my elke oggend werk toe geneem en my weer in die middag opgelaai. Alhoewel ons slegs 20 kilometer van die middestad af gewoon het, was die verkeer 'n nagmerrie. Dit was in die dae voordat kragstuur die standaard in alle motors geword het, en ek sou gesukkel het met die stuurwiel en die rathefboom.

Om terug te gaan kantoor toe was die regte besluit en het baie gehelp om die proses van emosionele genesing te begin. My kollegas, wat almal 'n uitstekende sin vir humor gedeel het, het nie gehuiwer om my die teiken van hul grappe te maak op daardie dae wat die angs en voortdurende moegheid (as gevolg van slapeloosheid) die oorhand gekry het nie.

Ek onthou nog die e-pos kettingbrief, die verpesting van ons lewens daardie dae, wat in my posbus geland het op 'n dag toe frustrasie hoogty gevier het. Die onderwerp van die boodskap is lankal vergete, maar ek onthou die laaste paragraaf duidelik: ‘As jy hierdie boodskap nie binne sewe dae aan sewe mense stuur nie, sal jou ander bors ook vrot en afval.’ Ek het uitgebars van die lag, en almal het agter die afskortings uitgeloer om deel te neem aan die pret.


Hooffoto: KI-illustrasie van 'n vrou wat 'n bors-selfondersoek demonstreer, terwyl sy haar hand gebruik om haar borsweefsel vir moontlike knoppe te palpeer.

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

2 Comments

  1. perdebytjie

    Jou verhaal is boeiend!

    Reply

Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors