INLEIDING
Hierdie is die eerste plasing op my nuwe webwerf thebraidedecho.co.za.
Hierdie keer skryf ek 'n joernaal oor my lewe soos dit verweef is met dié van my ma en my dogter. Die struktuur van die joernaal word hieronder verduidelik onder die opskrifte "Oor Hierdie Joernaal" en "Oor Ons Drie".
Belangrik! Ek het begin om die herinneringe in hierdie joernaal neer te skryf lank voordat ek die blogs begin publiseer het op die webtuiste wat my dogter vir my voorberei het. ‘n Hele ent weg het ek besef dat my gedagtes nie altyd mooi agtermekaar vloei nie, of dat daar intussen iets gebeur het wat ek gou moet oorvertel voortdat ek daarvan vergeet. Soms ontstel my herinneringe my so dat ek moet gaan soek na iets wat my sal opbeur en dan skryf ek daaroor. Dit beteken dat my verhaal nie altyd in chronologiese volgorde vloei nie. Ek het dus seker gemaak dat ek elke blog wat volg op hierdie Inleiding, voorsien van ‘n titel wat die jaartal aandui waarbinne ‘n spesifieke herinnering afspeel. Jy, liewe leser, moet seker maak dat jy kyk na die titel en weet in watter jaar hierdie herinnering in my kop ingeplant is, anders gaan jy verdwaal.
Engels is die dominante taal van hierdie webwerf, maar alle Engelse plasings sal in Afrikaans vertaal word.
Daar sal ook skakels na klankgrepe in beide tale wees vir lesers met leesprobleme of diegene wat verkies om te luister eerder as om te lees.
Soek die taalkeuseknoppie links onder op die webblad om oor te skakel na die taal van jou keuse.
Ek hoop dit klink na goeie nuus.
OOR HIERDIE JOERNAAL
Ek het begin om hierdie joernaal te skryf op my oorlede ma se laaste verjaardag. Haar ses-en-negentigste.
Ek is nie heeltemal seker wat my destyds gemotiveer het om dié besluit te neem nie. Wie sou tog jare later lees wat ek geskryf het en dié mense onthou oor wie ek geskryf het? Miskien het ek aangevoel dat daar ’n dag sou kom wanneer geheue, hare of myne, sou begin uitrafel. Dan sou ek hierheen kon terugkeer, my eie woorde lees, na die foto’s kyk en die draaie en kronkels van ons lewens onthou, hare en myne, saamgevleg.
Dalk het ek ook, stilweg en sonder om die wete ‘n naam te gee, geweet dat my eie lewe ’n soortgelyk wanordelike pad sou volg. Nie die netjiese, sirkelvormige weergawe wat aan ons verkoop word as die kringloop van die lewe nie, maar iets veel meer onvoorspelbaar. Minder perfek. Meer menslik.
Hierdie joernaal bestaan om vas te hou aan dit wat miskien kon wegraak uit die geheue. Die storie volg eintlik drie verweefde lewens: my ma s’n, my eie, en in ’n mindere mate ook my dogter s’n, oor die tydperk van meer as 'n kwarteeu. Dit handel oor ouderdom, demensie, siekte, veral kanker, gebroke families, geloof en twyfel, werk, verlies, uithouvermoë, en die stil, hardnekkige volharding om te lééf, eerder as om bloot te bestaan.
Ek skryf nie oor die "stryd" met kanker en die lewe se swaarkry nie. 'n Stryd lewer wenners en verloorders op, en ek verwerp daardie etiket. Hierdie is ’n rekord van die lewe soos dit geleef word, uitdagend, soms donker, dikwels absurd, en af en toe met teerheid. Humor kom na vore wanneer die storie daarop aandring.
Dit is nie ’n netjiese verhaal nie.
Dit is bloot die waarheid, neergeskryf voordat herinneringe verdwyn.
OOR ONS DRIE
My ma was die jongste van vier kinders. Sy het grootgeword in ’n klein plattelandse dorpie in die Noord-Kaap, waar my ouma ’n hostel vir polisiemanne en ’n winkel besit en bestuur het. My ouma was ’n aantreklike, sterk, hardwerkende vrou, briljant en ’n bekwame sakevrou, die ruggraat wat die familie bymekaar gehou het. Sy was ook streng, met ’n kort humeur en ’n geneigdheid tot woede-uitbarstings, as familieverhale geglo kan word.
My oupa was ’n padwerke-voorman wat gehelp het om pad te lê en brug te bou in die Kamiesberg streek, in die dae toe hierdie werk nog met die hand gedoen is, met grawe en pikke. Hy was ’n stil man, dikwels weg van die huis af, en soos my ouma het hy sy hele lewe lank aan asma gely. Hulle was arm, soos die meeste mense in daardie jare, het karige lone verdien en versigtig geleef.
My ma is met my pa getroud toe sy drie-en-twintig was. Hy was sewentien jaar ouer, ’n wewenaar met ses dogters tussen die ouderdomme van twee en vyftien. Sy moes regtig vreesloos gewees het, óf dolverlief. Beslis nie desperaat vir liefde nie. Sy het meer as haar regmatige deel van ‘n aantreklike voorkoms, intelligensie, gevatheid en moed gehad. Sy was ’n vrou met ’n vinnige humeur, ietwat bederf deur my pa, en het vinnig aanstoot geneem. Maar sy het ook maklik gelag en het ’n aansteeklike giggel gehad.
My pa was ’n stil man, nie iemand wat sy hart op sy mou gedra het nie, maar ‘n man wat volgens sy oortuigings geleef het. Selfs my ma was versigtig om hom nie onnodig te versondig nie. Volgens alle aanduidings was hul huwelik, wat byna vyftig jaar geduur het, oor die algemeen ’n gelukkige een, hoewel die lewe nie net uit rosegeur en maanskyn bestaan het nie. Vyf kinders is uit hulle huwelik gebore, waarvan ek die jongste is.
Albei my grootouers het in hul latere jare by ons gewoon. As die jongste dogter in haar familie het my ma vir hulle gesorg tot hul dood, op verskillende tye, voordat ek ses jaar oud was.
Ek was die jongste in hierdie saamgestelde gesin, gebore baie jare ná die meeste van my broers en susters, toe my ma reeds drie-en-dertig was. Getrou aan familietradisie het ek, as die jongste van haar kinders, uiteindelik my ma se versorging oorgeneem. Sy was gelukkig wat haar gesondheid betref en het die ouderdom van ses-en-negentig bereik. Daardie geluk sal my nie beskore wees nie. Siekte en chroniese swak gesondheid, hoofsaaklik kanker en hipertensie, het enige hoop op ’n sorgvrye aftrede vir my beëindig.
As die jongste kind in ’n groot en nie altyd gelukkige familie nie, is ek meestal oor die hoof gesien. Niemand het die moeite gedoen om met die baba van die familie te gesels oor familiegeskiedenis, konflikte, vreugdes of familiegeheime nie. Ek was bloot daar. Gevolglik het ek nooit regtig ons familiegeskiedenis leer ken nie, en het ek nie ’n noue verhouding met my ouers of my ouer broers en susters gehad nie. Ek wens ek kan die tyd terugdraai en hierdie leemte vul, sodat ek meer kon weet van my ouers se jeug en wat hul lewenskeuses beïnvloed het.
Ek hou van ’n goeie grappie. Humor is wat my aan die gang hou in moeilike tye. Ek het met my man getrou omdat hy my laat lag het en van hom geskei toe die lag verdwyn het. Ek het die familiehumeur geërf, asook die neiging om my mening te lug, dikwels met onnodige skerp sarkasme. Ja, en ek was ook nie onaantreklik in my jeug nie, hoewel ouderdom en siekte my voorkoms verwoes het in later jare.
Ek het my kinders, twee seuns en ’n dogter, liefgehad met ’n intensiteit wat aan oordrewe beskerming grens, en ek het nooit gehuiwer om vir hulle in te tree wanneer ek gevoel het dat dit nodig is nie. Ek doen dit steeds. Hulle sal vinnig vertel dat ek streng was, soms ontoegeeflik, maar hulle verseker my ook dat ek ’n goeie ma was, wat dít ook al mag beteken. Al my lewenskeuses, vanaf die dag wat hulle gebore is, was gesentreer rondom my liefde vir hulle en die noue verhoudings wat ek nog altyd tussen die sibbe probeer bevorder het. Ek weet nie of hulle noodwendig met hierdie stelling sal saamstem nie, maar dit is my storie, en ek sal daarby hou in hierdie joernaal.
My dogter is my jongste, gebore toe ek drie-en-dertig was, en getrou aan die familepatroon het die geskiedenis homself herhaal. Karen het my in my hoë ouderdom geërf en sorg nou vir my met die hulp van my oudste seun, Corné.
Getrou aan dieselfde patroon is Karen hoogs intelligent, kunstig, kreatief en mooi, van binne en van buite. Sy raak maklik geïrriteerd, maar is beter daarmee om dit weg te steek as wat ek ooit was. Sy verkies om dinge op haar eie manier en op haar eie tyd te doen, maar sy is deernisvol, vreesloos lojaal en bereid om 'n draak aan te durf om diegene te beskerm wat sy liefhet. Sy het die familie se sin vir humor geërf, maar is versigtig met wie sy haar grappies deel.
Hooffoto: KI-gegenereerde foto-illustrasie van drie generasies vroue wat mekaar omhels, wat die verweefde lewens van ouma, moeder en dogter simboliseer.







0 Comments