25 Oktober 2014. Vandag is my ma se verjaardag. Sy is ses-en-negentig jaar oud.
Verlede jaar het ons ’n klein viering in die eetkamer van die tehuis gehou. In haar saal is daar net ’n handjievol inwoners, almal te oud of te swak om na hulself om te sien.
My dogter, my oudste seun en ek was die enigste besoekers. Ons het ’n sjokoladekoek en ’n paar kolwyntjies gebring en ballonne aan die stoele vasgemaak in ’n poging om ’n feestelike atmosfeer te skep.
Die inwoners was nie beïndruk met die vreemdelinge wat hul grondgebied binnegedring het nie. Een verontwaardigde ou dame het sonder meer aangekondig dat sy bang is vir ballonne; ek moes dit onmiddellik verwyder. Ouderdom maak mense nie altyd sagter nie; soms maak dit hulle skerper, veral wanneer roetine versteur word. Tog het almal die koek geniet.
Ons het ’n plastiekkroon vir 'n prinses op my ma se kop gesit. Sy was in haar noppies. Nog meer so oor die foto-collage wat ons vir haar gemaak het: sy as kind, as jong vrou, op haar troudag en later in haar middeljare. Sy het dit met belangstelling bestudeer, al het sy nie heeltemal verstaan dat hierdie dag haar verjaardag was nie. Sy het aanhoudend gevra hoe oud sy is.
Hierdie jaar het ek besluit om die viering stil te hou en ons eet verjaardagkoek in haar slaapkamer. My ma het nou ’n nuwe kamermaat, en die twee lyk tevrede saam. Hulle gesels die hele dag en eet by dieselfde tafel langs mekaar in die eetkamer.
My ma geniet ons besoek, die koek wat ons gebring het en die aandag, maar die rede daarvoor het haar ontgaan. Hierdie jaar vra sy nie eens meer hoe oud sy is nie.
Ek sit langs haar bed en staar na die vreemd klein, uitgeteerde liggaam wat deur kussings regop gehou word. Gerimpelde vel. Krom vingers. En dan, ongevraagd, verdring die herinnering van die velede die hede: die sterk, mooi vrou wat sy eens was, die vele fasette van haar persoonlikheid wat ek nooit ten volle verstaan of regtig leer ken het nie.
Tot omtrent ’n jaar gelede was daar oomblikke wanneer haar herinneringe deur die mis gebreek het. Sy het oor haar kinderjare gepraat, altyd dieselfde stories, dikwels met verdraaide feite en dwalende logika. Nou praat sy baie min. Meestal sit sy net stil en staar na niks in die besonder nie, haar oë steeds ’n lewendige, verrassende blou.
Verskeie mense het vandag opgemerk dat sy ’n geseënde ouderdom bereik het. Ek antwoord nie. Hoe reageer ’n mens op so ’n hol frase? Wat is geseënd aan ’n lewe wat in elke opsig wat saak maak, reeds geëindig het, slegs deur ander onthou word, en soms nie eens dit nie?
Wat is geseënd aan ’n liggaam wat voortbestaan terwyl die mens, die wese wat voorheen in die liggaam gewoon het, stadig verdwyn het? Wie is nou eintlik geseënd? Is dit diégene wat hulpeloos toekyk hoe die fisiese en geestelike agteruitgang voortduur, lank nadat die lewe self stil-stil vertrek het? Dit alles terwyl die persoon wat haar versorg sukkel om tred te hou met die meedoënlose koste: die tehuis se gelde, spesiale kos, doeke vir volwassenes en die konstante stroom doktersrekeninge.
My ma het geen mediese fonds nie en geen inkomste behalwe ’n klein staatspensioen nie. My grootste vrees gedurende die jare wat ek haar versorg het, was eenvoudig en brutaal wreed: dat daar op ’n stadium ’n punt sou kom waar ek haar nie meer sou kon versorg nie, en dat sy nêrens anders ‘n heenkome sou vind nie. Niemand anders sou bereid wees om na haar om te sien nie. Twee ouers kon klaarblyklik heel goed daarin slaag om tien kinders groot te maak, maar om vir een ma te sorg, blyk ’n onmoontlike taak vir tien kinders te wees.
Teen daardie tyd was ek die enigste broodwinner in my gesin, en ek het die jaar tevore afgetree. Twee rondtes kanker het my gesondheid broos gelaat, en my werksomgewing het ondraaglik geword: voortdurende herstrukturering, eindelose kantoor politiek en werksdae wat geweier het om te eindig, selfs nadat ek saans reeds tuis was, steeds besig om te jaag agter spertye aan wat behaal moet word.
My woonhuis het min geestelike skuiling gebied.
Ek was een-en-sestig jaar oud en besig om myself en my eie menswees stadig uit te wis sonder dat ek dit regtig so bedoel het.
Uiteindelik, nie meer in staat om so ‘n lewe te hanteer nie, het ek aansoek gedoen vir vroeë aftrede. Die pensioen was beskeie, pynlik so, en die helfte daarvan het elke maand in my mediese fonds bydraes verdwyn. Maar om my mediese dekking te behou, was nie onderhandelbaar nie; ek het geweet my wankelrige fisiese gesondheid sou roekeloosheid nie vergewe nie. Dit bly een van die min besluite in my lewe waaroor ek nog nooit spyt was nie.
Wat my ma nog nie vandag besef nie, is dat hierdie verjaarsdag haar laaste in hierdie tehuis sal wees. Ek het reeds my huis verkoop en was besig om voor te berei om te trek. Reëlings was in plek om haar na ’n staats-tehuis nader aan my broer se huis oor te plaas. Ek het hom en sy vrou nodig gehad om my ma se sorg oor te neem sodat ek myself tyd kon gun om fisies en geestelik te herstel, en om nog een keer te probeer om my gesinslewe te herbou.
Ja, ek het skuldig gevoel om haar agter te laat, maar ek het ook besef dat sy my waarskynlik nie regtig sou mis nie. Deesdae herken my ma my nie meer regtig nie. Eers wanneer ek haar groet en haar “ma” noem, klik iets. Sy glimlag, sê my naam en vertel my hoe bly sy is dat ek kom kuier het. Ek was gister hier. Dit het sy vergeet. Sy vergeet dat ek elke dag kom. Ek is redelik seker dit sal nie lank wees voordat sy my heeltemal vergeet nie.
Ek is haar jongste kind en haar enigste oorlewende biologiese dogter. Ek dra haar naam. Ek lyk soos sy. Ten spyte van ’n moeder-dogter-verhouding wat dikwels stormagtig en onseker was, bly dit moeilik om te aanvaar hoe maklik my ma die dogter kon vergeet wat na haar omsien, haar besoek en haar lewe namens haar bestuur, vir jare al.
Sy onthou soms die man met wie sy meer as vyftig jaar getroud was, die vader van haar vyf kinders. “Hy was ’n aantreklike man,” sê sy, al kan sy nie hul lewe saam onthou nie, of selfs sy naam nie. Sy het op drie-en-twintig met hom getrou. Hy was sewentien jaar ouer, ’n wewenaar met ses dogters tussen die ouderdomme van twee en vyftien.
Daar was tye wanneer sy my oor my pa en sy dogters uit sy eerste huwelik uitgevra het, al het hul name haar ontgaan. Sy onthou steeds een van haar biologiese seuns, my broer wat nou haar sorg gaan oorneem, en vra wanneer hy weer gaan kom kuier. Ek verwys tong-in-die-kies na hom as haar gunsteling; sy lag en ontken dit nie.
Sy het vergeet dat sy nog twee ander seuns gehad het. My oudste broer is veertien jaar gelede oorlede, dikdermkanker, op agt-en-vyftig. Ek is dankbaar dat sy daardie hartseer nie meer onthou nie; dit het haar net ontstel.
Sy praat nooit meer oor haar jongste seun nie, die een wat sy laas by my pa se begrafnis in 1990 gesien het, byna vyf-en-twintig jaar gelede.
Sy het die babadogtertjie vergeet wat ’n jaar en ’n half voor my geboorte doodgebore is.
My ma het haar lewe vergeet.
Hooffoto: 'n Gestileerde foto van my dogter wat help om haar ouma se vyf-en-negentigste verjaarsdag te vier.







Dis hartseer maar tog ook hartverblydend dat jy steeds na haar kon kyk al was dit moeilik vir jou. Dankie namens ‘n vrou en self ‘n moeder vir die deel van hierdie terugflits.
O ja, dit was ‘n baie moeilike en emosionele tydperk vir my Scrapy, maar ons het nogal heelwat humoristiese episodes beleef. My ma was by tye ook maar moeilik en noudat ek by my kinders woon, probeer ek om ‘n baie lae profiel te handhaaf – nie altyd suksesvol nie. Ek vertel later meer oor hierdie periode in my lewe.
Jong, dit was maar by my ook ‘n storie met Ma Mamma wat eintlik by my wou bly. As mens so terug dink kon mens eintlik met tye als beter beheer het as mens geweet het wat jy nou weet. Het vanoggend halfpad deur jou kanker hoofstuk gelees en moes eers ophou. Sal later weer verder lees. Dis regtig goed dat jy alles so herleef en beleef. Gee mens closure met omstandighede.