Ek was nog altyd ten volle bewus daarvan dat ek, as gevolg van my familie se mediese geskiedenis, in die hoërisikogroep vir kanker val, en ek het vanaf my eerste swangerskap gereeld vir my jaarlikse ondersoeke aangemeld. In 1995 het ek bewus geword van 'n knop in my regterbors. Mammografie- en sonarskanderings het siste aangetoon wat die dokters as nie-kwaadaardig fibrosisties geklassifiseer het. Hulle het my gerusgestel dat dit 'n algemene verskynsel in borste van vroue van my ouderdom was en niks om oor bekommerd te wees nie.
As ek toe geweet het wat vir my voorlê, sou ek meer aandag gegee het aan die subtiele seine van my liggaam wat probeer het om my brein te waarsku dat daar iets ernstigs met my verkeerd was; slapeloosheid, chroniese moegheid, ongewone swaar bloeding tydens menstruasie, onuithoudbare skeelhoofpyn, die onverwagte sensitiwiteit in my oksels en swelling in my regterarm na 'n lang dag agter die stuurwiel. In plaas daarvan het ek net 'n punt daarvan gemaak om gereeld by die radioloë op te daag, en elke keer is ek gerusgestel deur die negatiewe resultate wat die mammogram- en sonar-ondersoeke aangedui het.
In 2001 het ek 'n oorplasing aanvaar na die hoofkantoor van die groot kommersiële bank waar ek gewerk het.
Ses maande nadat ons in Johannesburg geland het, het ek vir my gewone roetine-ondersoek by 'n kliniek naby ons woonstel aangemeld. Die radioloog het genoem dat sy 'n bietjie bekommerd was oor die resultate van die jongste mammogram. Die chirurg na wie ek verwys is, het 'n dun draadjie in die bors ingedruk om weefsel uit die sist te verwyder. Dit was 'n ongelooflik pynlike prosedure, maar tot my verligting het die toets 'n paar dae later negatiewe resultate aangedui.
Die chirurg was egter duidelik ongemaklik en het my oortuig om by die kliniek aan te meld vir 'n wigbiopsie onder algemene narkose. Sy voorgevoel was in die kol. Daar was inderdaad kankerselle, nie in die sist self nie, maar versteek in die weefsel daaragter. Hy het ‘n volledige mastektomie so gou as moontlik aanbeveel om te verseker dat al die kankerselle verwyder is.
Dus, op haar sewentiende verjaardag, het ek vir my dogter 'n Tweety Bird-verjaardagkoek gegee wat spesiaal by die bakkery om die hoek bestel is, 'n legkaart met 'n luiperd in 'n boom, en die nuus dat ek met borskanker gediagnoseer is.
Karen was verpletter. Ek sou enigiets gedoen het om hierdie laaste bietjie nuus terug te hou, maar sy kon nie juis die skielike gewoel in ons woonstel mis nie; die eindelose telefoonoproepe en doktersafsprake, die onaangekondigde besoek van haar ouma en die feit dat haar broer onverwags opgedaag het vir ‘n kuier na 'n vyf jaar lange skeiding, met al sy aardse besittings in 'n kartondoos onder sy arm.
Ek wou graag hê dat sy die diagnose direk van my af hoor, en die chirurg wou so gou as moontlik met die mastektomie voortgaan. Ek het probeer om haar gerus te stel dat borskanker nie noodwendig 'n doodsvonnis is nie en dat ek die beste moontlike behandeling sou ontvang.
Ek is al jare lank 'n lid van die uitstekende mediese hulpfonds wat aan bankamptenare aangebied word en het tot vandag toe nog op hul omvattende mediese plan gebly. Hulle is van die diagnose in kennis gestel, en in oorleg met my dokters is 'n behandelingsplan in 'n japtrap goedgekeur. Ek is werklik dankbaar hiervoor, aangesien alle mediese koste vir kankerbehandeling 100% deur die fonds gedek word, en dit is steeds die geval tot op hede.
Karen het steeds bekommerd gebly, verstaanbaar so. Sy het baie min kontak met haar pa en twee broers gehad sedert ons egskeiding in 1992; ek en haar bejaarde ouma was haar enigste werklike familie. Kort na ons verhuising na Johannesburg het sy steeds haar bes probeer om aan te pas by die nuwe Graad 11-kurrikulum, wat baie verskil het van die skoolopleiding wat sy voorheen in Bloemfontein ontvang het. Dit was aanvanklik moeilik om vriende by die skool te maak, en ek was die hele dag by die werk. Dit was 'n baie eensame tyd vir haar.
Albei my seuns het die afgelope vyf jaar by hul pa in Kaapstad gewoon. My oudste seun het deeltyds gewerk, en ek het hom gevra om sy werk op te gee om vir 'n paar weke Johannesburg toe te kom. Ek het gehoop dat hy vir Karen geselskap sou wees.
Na al die chirurgiese prosedures sou ek in elk geval nie in staat wees om my motor te bestuur nie, en openbare vervoer het destyds nie in Johannesburg bestaan nie; geen voorstedelike treine, busse of taxi's nie. Om van Florida, geleë aan die Wes-Rand, na die Johannesburgse middestad te ry in die vroeë oggend- en laatmiddagverkeer was selfs op die beste van tye geen geringe prestasie nie. Ek was bekommerd oor hoe ek werk toe en terug sou kon reis, maar Corné se koms het hierdie probleem opgelos.
Hy het sy persoonlike rekenaar saamgebring om homself besig te hou, en het gou by die huishoudelike roetine ingeskakel. Ten minste kon ons nou winkels toe gaan, doktersafsprake bywoon en die kliniek besoek, en later miskien af en toe op ‘n uitstappie gaan. En natuurlik sou ek so gou as moontlik weer moes begin werk na die voltooiing van die mediese prosedures.
Vyf dae na Karen se verjaarsdag is ek in die kliniek opgeneem vir 'n volledige mastektomie van die regterbors. Na die operasie het die chirurg genoem dat hy vyf kliere onder my regterarm verwyder het, maar geen verdere kankerselle gevind het nie. Dit was goeie nuus, nie waar nie? Of dalk nie. Die chirurg se somber houding het daarop gedui dat dit dalk nog nie die einde van die beproewing was nie. Hierdie man se kennis van sy onderwerp en jarelange ondervinding in sy veld het ongetwyfeld my lewe gered.
Gedurende en na die tyd toe ek die eerste keer gediagnoseer is, wou ek net die diagnose en behandeling so doeltreffend en vinnig as moontlik hanteer, en terugkeer na my lewe soos ek gedink het dit veronderstel was om te wees.
Op my eerste aand terug by die huis na die mastektomie, het ek onmiddellik in my bed gekruip, waar Ollie gewag het om my te troos. Ollie was Karen se majestueuse vet huiskat wat elke aand in haar bed geslaap het, maar sedert die eerste dag wat ek na die mastektomie huis toe gekom het, het ek wakker geword met 'n kat in my bed. Dit was 'n vreemde troos om die mollige, warm lyfie langs myne te voel. Ek het daardie troos nodig gehad. Karen moes vir die eerste keer in baie jare alleen slaap.

Ek was so moeg, maar ek kon nie slaap nie. Ek was nie net bekommerd oor die toekoms nie, maar om te sê ek was kwaad oor hierdie nuwe terugslag in my lewe, was om dit liggies te stel.
Ek het pas begin inskakel in die pos by die werk waarna ek al baie lank gesmag het. In my middel-veertigs het ek besluit om my regstudies verder te voer en het onlangs my L.L.B.-graad verwerf. Op die dag dat ek my gradeplegtigheid sou bywoon, het ek 'n mastektomie ondergaan.
Die kleed wat ek vir die seremonie gehuur het, het in die plastiek verpakking gebly totdat Corné daarop aangedring het om my na 'n professionele fotograaf te neem om my groot prestasie vas te vang; ek met my kleed aan, terwyl ek 'n blanke vel papier vashou.
Vir die eerste keer in my lewe het ek in 'n diep gat van depressie gekruip, waar al wat ek kon voel 'n donker, naamlose woede was. Ek het geweier om uit te reik na enige van die ondersteuningsgroepe wat die hospitaal voorgestel het, wou nie besoekers toelaat nie en het nie telefoonoproepe geneem nie. Ek was bekommerd oor my werk, bang dat ek aan hierdie siekte sou sterf en my jong kind alleen sou agterlaat.
En ja, ek het die mediese praktisyns blameer wat nie die kanker vroeër gediagnoseer het nie. Ek is voorheen altyd gerusgestel dat hierdie drastiese prosedure nie nodig was nie, maar nou het ek geweet dat die verwydering van die knop daartoe kon gelei het dat die kanker vroeër opgespoor kon gewees het.
Hooffoto: Ek het my L.L.B.-graad buitemuurs aan Unisa in 2001 verwerf, en ek het op 20 September 2001 'n mastektomie ondergaan, die dag nadat die foto geneem is. Ek was 50 jaar oud.







Woede is m.i. ‘n baie goeie reaksie, want dan is mens gereed om te veg! So bly en dankbaar dat jy vir Ollie gehad het – katte weet darem maar net hoe om te troos.
Dis waar, Frannie, woede op die regte tyd help. Ek dink wat my die meeste gevang het, was die feit dat ek so in die openbaar hierdeur moes gaan. Ek het letterlik met honderde mense in aanraking gekom elke werksdag, en ek praat nie eens van al die mediese personeel wat letterlik elke duim van my lyf bevoel, bevat en bekyk het nie. Ollie was ‘n ou sweetheart en ‘n groot troos.