M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Homepage

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Tuisblad

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2001 | Ons Het Probeer om Chemo newe-effekte met Humor en Uithouvermoë te Oorleef

Mei 12, 2026 | Cancer, Journal | 5 comments
Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

Chemoterapie het vir my baie newe-effekte veroorsaak. Gelukkig het die meeste daarvan vervaag nadat die behandeling geëindig het; ander het 'n rukkie langer vertoef. Ons het onsself getroos met die sêding "dit gaan ook verby" en ons het geleer om met humor te leef.

Die verskriklike naarheid was nie die enigste of die ergste van al die newe-effekte nie. Om die helfte van die nag oor die toiletbak te hang, en net droë wurggeluide voort te bring totdat jou keelspiere in 'n spasma gaan, en jou maagspiere protesteer met rollende krampe, is beslis nie maklik nie. Maar niks klop die verlammende uitputting nie. Tussen die aanvalle van naarheid deur het ek soms in vreemde posisies aan die slaap geraak; op my knieë met my kop in die toiletbak was beslis die ongemaklikste posisie. En teen die tyd dat die naarheid oorgegaan het, wat uiteindelik tog gebeur het, het slapeloosheid ingegryp en my ure lank wakker gehou.

Ek onthou hoe ek een oggend ná nog 'n chemosessie wakker geword het, heeltemal uitgeput, so moeg dat ek nie uit die bed kon kom nie. Karen het vir my 'n koppie rooibostee sonder melk gebring; dis al wat so gou na 'n chemosessie in my maag sou bly. Ek het vir haar gesê dat ek verlig was dat al my hare uitgeval het, want vandag is ek net te moeg om 'n haarborsel op te tel.

Haarverlies as gevolg van die behandeling was te wagte. Wat ek nie verwag het nie, was die manier waarop ek emosioneel heeltemal uitmekaar geval het toe ek na die tweede chemobehandeling al my hare op een slag tydens my stortsessie verloor het.

Ek het vroeg uit die bed geklim om te stort, want die skerp reuk van die chemikalieë het aan my vel, pajamas en beddegoed gekleef. Ek het die kraan oopgedraai, en die reuk van die sjampoe in my hare het amper my asem weggeslaan. Dit het na bleikmiddel en ontsmettingsmiddel geruik. Ek het my neus tussen duim en wysvinger toegeknyp en die krane heeltemal oopgemaak. Vir 'n minuut of twee het ek net daar gestaan en die gevoel van die warm water op my vel geniet, totdat ek skielik besef het dat iets fout was. Die water het dik en slymerig gevoel, en die vlak het om my voete begin styg. Ek het afgekyk en 'n see van hare gesien. 'n Vinnige vryf oor my kop het onmiddellik my ergste vrese bevestig; al my hare was weg. My kop was heeltemal kaal, behalwe vir 'n paar hardnekkige hare wat uit my jeukerige kopvel gespruit het.

Ek het afgedroog en, met net my badhanddoek om my gedraai, na my kinders gaan soek. Hulle het my oomblikke lank in algehele skok aangestaar, toe het Karen in die badkamer verdwyn om die mat van hare op die stortvloer skoon te maak. Corné het my by die eetkamertafel laat sit en 'n elektriese haarsnyer gebruik om die oorblywende haarklossies af te skeer.

Niemand het aanvanklik 'n woord gesê nie, maar toe begin paniek intree, en my kaal kop het die hoofonderwerp van gesprek vir die res van die naweek geword. Ek het nie 'n pruik gehad nie. Ek het botweg geweier om een te dra. Teen Maandag sou ek heeltemal poenskop werk toe moes gaan. Karen het die probleem op die nippertjie opgelos met 'n modieuse swart hoed versier met 'n skoenlapper-haarknippie. Ek sou die volgende paar maande die trots en vreugde van haar tienerklerekas dra. Ek het nooit 'n pruik gekoop nie, en vir baie maande het 'n verskeidenheid skoenlappers vrolik op my hoed rondgedans , totdat my hare uiteindelik weer uitgegroei het.

Chemo het my reuksintuig op tallose maniere beïnvloed. Alhoewel dit oor die jare verbeter het, is daar steeds sekere reuke wat ek nie kan verdra nie, soos die reuk van die spesifieke soort sjampoe wat ons destyds gedurende my behandeling gebruik het, wat tot vandag toe nog 'n aanval van naarheid kan aanbring. Daardie soort sjampoe sal vir altyd uit my huis verban bly. Dan is daar ander reuke wat ek glad nie kan waarneem nie, soos die gedempte reuk van blomme en kruie in die tuin. Ons verwys na hierdie gebrek as "Ma se gebreekte neus".

Terwyl ek chemoterapie ontvang het, het ek 'n knop opgemerk wat ontstaan het in een van die are aan die binnekant van my linkerarm, waar die binneaarse drup tydens behandeling toegedien is. Die onkoloog het my verseker dat hierdie knop, wat gevorm het as gevolg van die sterk chemikalieë wat toegedien is, mettertyd sou oplos. Dit het wel na 'n paar weke verdwyn, maar die are het vir 'n paar maande lank hard en seer gebly. Een van my kollegas by die werk het my aangeraai om my arm met arnika-olie te masseer, wat ek elke aand ná my stort ywerig gedoen het. Uiteindelik het die aar gedeeltelike elastisiteit herwin, maar daar is steeds 'n mate van pynlikheid, veral merkbaar wanneer die weer koud word. En my kinders haat steeds die reuk van arnika-olie.

Chemo het ook my smaaksin oor die kort termyn beïnvloed. Alles het soos karton gesmaak, en ek het my eetlus heeltemal verloor. Na afloop van die behandeling het ek egter al die verlore kilogramme in rekordtyd herwin. Daar is wel sekere kossoorte wat ek nie meer smaaklik vind nie. Ek dink dit het baie te doen met my verminderde reuksin.

Die onkoloog, wat geweet het ek is lief vir swem en stap, het dit van die begin af duidelik gemaak dat ek my vel altyd teen sonbrand moes beskerm tydens chemoterapie behandeling. Ek het nie omgegee nie, want ek het reeds genoeg kanker gehad om mee te worstel, en velkanker op die koop toe was nie een van my doelwitte nie. Teen die tyd dat ons jare later na die kus verhuis het, het ek hierdie raad heeltemal vergeet, en ons was heeldag in die son. Sover ek kan agterkom, was daar geen langtermyn-effekte van die see-son nie, maar deesdae is ek 'n bietjie versigtiger, en ek bedek my vel selfs vir net 'n kort wandeling in ons tuin of 'n vinnige duik in die swembad.

Nog 'n newe-effek wat nooit weggegaan het nie, is 'n neiging om altyd koud te kry. Selfs in die lieflikste lente- of somerweer sal jy my in 'n gebreide trui of 'n baadjie sien rondloop. My kinders het altyd beweer dat hul ma 'n reptiel is. Nie so lank gelede nie, het my onkoloog in my dogter se teenwoordigheid bevestig dat dit 'n langtermyn newe-effek van die chemoterapie kan wees. Toe hy dit sê, het ek die volwasse ding gedoen en my tong vir haar uitgesteek. Hierdie winter het hulle 'n elektriese verwarmer teen my kamermuur geïnstalleer, my gasbottel vir my klein gasverwarmer vol gehou, en ek het 'n nuwe elektriese kombers gekry. Ek beskou dit alles as 'n welverdiende apologie.


Hooffoto: KI-illustrasie van 'n vrou wat ly aan die newe-effekte van chemoterapiebehandeling, veral haarverlies, naarheid, hoofpyn en moegheid.

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

5 Comments

  1. Rob Alberts

    Een serieus en aangrijpend verhaal!

    Bij mij zijn operatief 2 hele kleine tumoren verwijderd.
    Na controle ben ik weer helemaal schoon verklaard.
    Een kleine ingreep en ervaring niet te vergelijken met jouw relaas.

    Meelevende groet,

    Reply
    • Hester Nel

      Self ‘n klein ingreep laat ‘n mens soms bang en verwilderd voel, Rob. Dis iets wat jy nooit vergeet nie, want dit voel asof jou liggaam jou verraai het deur toe te laat dat so iets gebeur. Ek hoop dit gaan net goed met jou in die toekoms, Rob. Dankie vir die saam gesels.
      Warm wintergroete.

      Reply
  2. perdebytjie

    Sjoe Hester, ek beleef alles saam met jou!
    Puik skrywe en ‘n inspirasie vir ander wat ook daardeur gaan.

    Reply
  3. Hester Nel

    Dankie D, ek wens ek het met ‘n bietjie meer kennis hierdie reis onderneem. Dis die onbekende waardeur ‘n mens moet gaan, wat jou bang maak.

    Reply
  4. scrapydo2.wordpress.com

    Dis eintlik tog wonderlik hoe die liggaam reageer op sulke behandeling. Ook dat die liggaam sekere dinge verloor. Die luister en lees van hierdie stuk was beslis uitstaande. Mens sien en voel presies hoe dit is. Dis ook goed om te hoor dat daar soveel positiewe feite uit kom saam met die moelike aanvaarding. Mooi bly.

    Reply

Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors