M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Homepage

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Tuisblad

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2007 – 2010 | Die Ongemaklike Realiteit van Saamleef met ‘n Bejaarde Ouer in ‘n Oorvol Huis

Jul 21, 2026 | Old Age, Journal | 1 comment
Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

2007 was nie 'n maklike jaar nie. Toe my bejaarde moeder in ons reeds oorvol huis ingetrek het, moes elke gesinslid gewoond raak aan die ongemaklike realiteit van saamleef met ‘n bejaarde ouer. Eerstens moes ons kamers verskuif en herrangskik in die huis wat ons aanvanklik vir net drie gesinslede beplan het.

Ons het steeds vir Daniel akkommodeer en sy aanvanklike “tydelike verblyf” het reeds vier jaar geduur. Nou moes ons 'n vyfde persoon huisves. Daar was net drie slaapkamers, een vir my en een vir elk van my kinders. Genadiglik was daar twee badkamers, asook die vertrek wat ons steeds "die ou motorhuis" genoem het, onder dieselfde dak. Daniel het die ou motorhuis in 'n tweede sitkamer omskep waar al ons rekenaartoerusting gehou is en dis ook waar hy tot nou toe geslaap het.

Met my ma se koms het sy daarop aangedring om by my in die kamer te slaap. Ek het botweg geweier. Ek het geweet dis moeilikheid soek met slaappatrone wat verskil, daaglikse stilte- en gebedstye wat my ma gehandhaaf het (en wat hierdie heiden koud gelaat het), en haar onwelriekende medisyne. Corné het die kleinste slaapkamer gehad en ons het hom daar in vrede gelos om sy lawaaierige aanlyn rekenaarspeletjies te speel tot diep in die nag. Karen het verskuif na die ou motorhuis en sy het twee klerekaste vir haarself aangekoop. Die res van die vertrekke in die huis het almal ingeboude kaste gehad.

Daniel moes nou noodgedwonge in my kamer slaap. Hieroor wil ek nie eens praat nie, behalwe om te sê die verhouding tussen ons het onveranderd platonies gebly. Sy gesondheid was toe reeds ook nie meer goed nie, en myne was nie beter nie, aangesien ek steeds Tamoxifen moes drink en elke dag meer gewig aangesit het, maar gelukkig was dit ‘n groot kamer. Ons het twee gerieflike houtbeddens en bedkassies daar ingesit om vir elkeen ‘n aparte lewensruimte te skep.

My ma het 'n gemaklike, groot slaapkamer reg langs myne gehad, met 'n badkamer oorkant die gang en groot vensters wat 'n pragtige uitsig oor die sonnige tuin gebied het, waar sy die voëllewe kon dophou of veilig buite kon stap wanneer sy lus was.

Sy het daarop aangedring om haar eie lendelam meubels saam te bring van Durban af. Dit het ‘n groot houtbed ingesluit, ‘n wankelmoedige laaikas wat ‘n kwart van die kamer beslaan het, die draagbare toilet, ‘n telefoon-tafeltjie wat sy as bedkassie gebruik het, ‘n enorme rystoel wat sy nog nooit gebruik het en ook nooit sou gebruik nie (as ek nou die storie hier mag vooruit loop). Dit beteken dat daar bykans geen spasie in die kamer was om te loop nie (onthou, daar was ook ‘n ingeboude kas).

Sy het daarop aangedring om my badkamer, wat ek nou met Daniel moes deel, te gebruik. Hoekom? Omdat my kinders ook die tweede badkamer gebruik het? Hierdie gesinsbadkamer se stort was groter en daar was ‘n vollengte bad. Ek het haar versoek geweier en toe dreig sy om na haar ablusies in die waskamer te gaan omsien. Die waskamer het ‘n groot twee-balie en ‘n outomatiese wasmasjien in gehad, ‘n tuimeldroër en ‘n enkel-wasbak – vir wasgoed, nie vir mense nie. Ek het geweier om die saak te bespreek. Ek weet sy het ‘n plastiek kommetjie in haar kamer aangehou waarin sy gesig en voete gewas het, maar sy het darem die stort oorkant haar kamer gebruik wanneer sy ‘n ordentlike bad benodig het.

Ek het nie die tyd of die lus gehad om hierdie geite te oordink nie, want Louis, my middelkind, het in hierdie jaar in Kaapstad getrou. Ek en Daniel het vir ‘n week lank weggegaan om Louis se aanstaande skoonouers te ontmoet en ons het ook ‘n besoek gebring aan Daniel se ma, wat ek jare laas gesien het. Dit was ‘n ver pad van Johannesburg af na Riebeeck-Wes waar die voornemende bruidspaar daardie tyd gewoon het en Port Elizabeth toe waar sy ma gewoon het en ons het die hele pad om baklei, oor alles en nog wat. Dit was 'n misrabele week.

Ek het Daniel se ma reguit vertel dis tyd dat sy na haar seun moes begin omsien sodat ek my lewe verder in vrede kon leef. Sy het botweg geweier en gesê dis die Here se wil dat ons twee weer by mekaar uitgekom het. Ek was so verslae dat ek geen verdere woord kon uitkry nie. Daniel het my net ‘n kyk gegee soos ‘n klein hondjie wat geskop is en toe ek aan die einde van die kuier in my kar klim, was Daniel reeds in die passassiersitplek. Hy het tot die einde van sy lewensduur by my gewoon (as ek nou weer ‘n keer die storie mag vooruit loop).

Terwyl ons weg was, het Samuel en Emmy bedags na my ma omgesien en saans was die twee kinders by die huis. Toe ek nà die tyd gevra het hoe die oppassery verloop het, het twee werkers en twee kinders net hulle oë gerol. Ses maande daarna het ons hele gesin, met uitsondering van my ma, Kaap toe gevlieg om die troue by te woon. Ek het vroeg die volgende oggend terug huis toe gevlieg. Emmy het vir die tydperk wat ek sou weg wees, in my kamer geslaap om naby my ma te wees. Hoe het dit gegaan? het ek gevra, en Emmy het net haar oë gerol.

Karen het hierdie keer saam met haar pa Port Elizabeth toe gegaan om by ouma te kuier. Sover ek kon agterkom, het sy ook die geleentheid gebruik om haar ouma oor te haal om haar seun weer in haar huis in te neem. Hoe het dit gegaan? het ek vir Karen gevra, en sy het net haar oë gerol. Ek sou vir die volgende drie jaar nie weer weggaan van die huis af nie.

My ma se kerk het net een plek van aanbidding gehad in Johannesburg, en dit was in Kemptonpark. Dit sou ‘n rit van 140 km  wees elke week om haar kerk toe te neem. Ek het geweier om die hele week te werk en dan my hele Sondag op te offer om haar Kempton toe te neem vir die dienste wat tot drie ure elk kon duur. Sy was toe reeds 87 jaar oud en ek kon sweer sy was dankbaar dat ek haar die nodige verskoning gebied het om by die huis te bly

Ek het vermoed dat my ma eensaam en uitgesluit begin voel het. Sy het my pa verloor in 1990, en my oudste broer by wie sy baie jare gewoon het in 2000. Nou was Nettie, haar vriendin en jarelange versorger, ook oorlede en sy moes aanpas by 'n hele nuwe lewenswyse. Ek het soms in die nag wakker geword en gehoor hoe sy in haar slaap, huilend, na my pa roep. Dan het ek by haar gesit totdat sy weer aan die slaap geraak het. Maar sy kon of wou ook nie my gesin as plaasvervangers aanvaar nie.

Ek het die mense van die kerk wat ek voorheen ontmoet het, gekontak en hulle genooi om Saterdae by ons aan huis te kom kuier. Hulle het so ‘n paar keer opgedaag, en toe het die vriendskaplike besoeke ook begin opdroog. Die familie (wat destyds my broer in Boksburg en die halfsusters wat nog geleef het ingesluit het), is ook genooi om naweke te kom kuier. Ons was meer suksesvol met die familie se kuiers. Vriende het ons toe nie meer werklik gehad nie. My ma het elke keer my broer verwelkom asof hy die verlore seun was en dan het sy hom uit die geselskap gesmokkel om alleentyd met hom te spandeer. Hy moes raad gee oor haar dieet en haar gesondheid en met haar gesels oor haar godsdienstige oortuigings en elke woord wat hy gesê het, is ontvang soos die evangelie. Ek, die een wat haar gehuisves het en dag na dag na haar gesondheid en gemak omgesien het, het nie naastenby so ‘n vriendelike ontvangs gekry wanneer ek saans by die huis gekom het nie. Hieroor het ek my oë gerol.

Daar is baie keer oë gerol in my huis gedurende die jaar 2007.


Hooffoto: Gestileerde foto van die tuin buite my ma se slaapkamervenster.

Video: Ons het baie voëls en duiwe in ons tuin gevoer, en ons het dit geniet om te sien hoe hulle baklei en hulleself wangedra tydens voedingstyd.

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

1 Comment

  1. Lekkervurigeaffêre

    Jou vertel resoneer by my op ‘n diep vlak…ek was ouerloos toe ek in 1984 my man se familie binnegeval het. Weduweemoeder en vier seuns. Ek was vir hulle vreemd en ja na 40 jaar kyk ek terug en is dankbaar dat skoonma en ek na ‘n helse geslyp mekaar gevind het. Sy het vakansies, spesiale dae deel van my huis geword oor die jarw, en in haar laaste 2 jaar was ek en my gesin die hoof steun vir hospitaalbesoeke, herstel, en uiteindelik haar afsterwe. Medaljes het ons nie gekry nie. Haar beste is vir die kom kuier kinders gehou. My gesin het aan die kort ent van die stokkie moes vashou. Maar ons het, en kon. Dankie Hester, dat jy so eerlik ‘n spieël bekyk, dat ons wat vir jou lief is ook dieper en helderder kan kyk en berus.

    Reply
    • Hester Nel

      So, ek was nie die enigste een wat gevoel het dat ek “nie goed genoeg” was nie. Ek wens ek het jare gelede al hieroor gepraat of geskryf, want mens besef nie hoeveel ander saan met jou in dieselfde bootjie ry nie.

      Reply
  2. Lekkervurigeaffêre

    Ons loop maar almal die lewenspad strompelend alleen, dikwels vanweë eie denke en emosies, pleks van in openheid hande te vat. Dink net die krag waarvan ons nie gebruik maak nie.

    Reply
  3. Anoniem

    Hester, ek stem saam met Buffeltjies, dankie vir jou eerlike vertel. Baie van jou pad klink bekend. Die groot opofferings wat jy gemaak het, moes ook ‘n tol geëis het. Op jou tande byt, het jy seker ook gereeld gedoen.Ek giggel oor die oogrol, dis iets wat ek ook aan geleer het en moes afleer!! Ek haal my hoed af vir jou en stuur baie liefde. Bondels

    Reply
    • Hester Nel

      Dankie Bondels. Ja, soms kan ek nie anders as om te lag oor al die onsin waarmee ons kosbare tyd gemors het, in plaas daarvan om die lewe saam te geniet.

      Reply
  4. perdebytjie

    Hester, jou lewensverhaal is aangrypend. My ouma wat by ons gewoon het, het ook baie geite gehad en soms was dit baie stresvol. Daardie tyd het ons nog nie geweet van oë rol nie, anders was myne permanent in my agterkop!

    Reply
    • Hester Nel

      Wie was dit wat eendag gesê het as sy haar oë nog verder rol gaan sy haar eie ruggraat sien? Ek het al baie gewonder of al die geite net ‘n poging is om vas te klou aan beheer oor ‘n situasie waar hulle voorheen die voortou sou geneem het. Sommige mense kan net nie laat gaan nie.

      Reply

Talk to me | Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors