2026. Op hierdie punt moet ek eers weer my skrywe in my blog-joernaal met herinneringe van vroeër jare onderbreek om net te verduidelik hoekom ek so stil is. Ek het gehoop om hierdie week voort te gaan met my blogjoernaal, maar op die oomblik is dit nie moontlik nie weens ’n katarakoperasie.
Soms moet ‘n mens jouself dwing om stil te wees, om kalmte toe te laat om die bewing in jou binneste te laat bedaar. Jy kan nie elke minuut van jou lewe op ‘n styfgespanne koord loop en verwag dat die duiseligheid, naarheid, hoofpyn en spierpyn jou gaan toelaat om regop te bly nie. Die een of ander tyd gaan jy van daardie koord af bliksem en met ‘n seer slag op die vloerplanke beland.
Soveel dinge het gebeur sedert Daniel so skielik en so onnodig dood is in 2022. Ek wil so graag daardie tydperk in my joernaal klaar vertel, en van my hart af kry, want ek weet dat hierdie skrywe die beste terapie is, en dat ek dit absoluut aan myself en aan my lesers verskuldig is, maar soos gewoonlik, is daar nou eers weer ‘n vlieg in die aptekersalf. Dis hoe ek elke minuut van elke dag gevoel het daardie laaste agtien maande wat ons noodgedwonge in KZN gebly het. Dit is hoe ek op die oomblik voel.
Ek het al baie jare, van my dertigerjare af, met swak sig gresukkel. Ek het op die oomblik so vyf of ses pare brille in my kas. Hierdie hulpmiddels is almal deur die jare gemaak om my daaglikse lewe te bestuur.
Een van die herhaaldelike hulpkrete deur al hierdie lang jare heen was nog altyd: “Ek kan hierdie nie lees nie!” en “Ek kan daardie nie sien nie!” Die probleem het deur die jare vererger.
Ek het ‘n spesiale rekenaarbril wat veronderstel is om die geheime van my twee yslike rekenaarskerms vir my te openbaar. Al wat ek tans daarmee kan sien is twee wasige wit kolle wat my hoofpyn elke minuut van die dag erger maak.
Ek het ‘n leesbril wat my in staat gestel het om ‘n boek te lees, ’n regte boek met bladsye, of op my Kindle se skerm. Dit werk ook nie meer lekker nie.
Ek het ‘n TV-bril wat die onderskrifte op die groot skerm vir my duideliker maak. Ek het geleer om baie vining te lees, voordat die onderskrifte verdwyn, maar ongelukkig is dit nie moontlik om beide die beeld en die onderskrifte gelyktydig in te neem nie. Die feit dat ek hardhorend is, het net bygedra tot my ellende, en ek vermy dit gewoonlik om te veel ure voor die TV deur te bring.
Ek het ‘n bestuursbril wat veronderstel is om myself en my mede-padgebruikers veilig te hou. Ongelukkig het my regteroog mettertyd so verswak dat ek nie meer daardie kans kan vat dat ek wel die verkeer in die ander baan sal raaksien nie.
Ek het ook ‘n baie ou multifokale leesbril wat ek ‘n hele paar jaar gelede gekry het in die hoop dat dit my probleem sou oplos. Dit was nog altyd my werksbril, die een wat my in staat gestel het om my brood te verdien. Dis die enigste bril in die kas wat ek in die laaste jare regtig nog gebruik het, omdat die lense verdonker wanneer ek buite in die son kom. My oë is ontsettend gevoelig vir lig.
Die grootste probleem in my geval is natuurlik dat die onkoloë baie versigtig is om hierdie soort operasie toe te laat solank as wat hulle pasiënte aktiewe behandeling ontvang. Nietemin het ek hierdie jaar besluit om die sprong te waag en het by my mediese fonds aansoek gedoen om my lense te laat vervang.
Ek was nog altyd te bang om enige werk aan my oë te laat doen, omdat ek weet dat die chroniese medikasie wat ek gebruik, dalk net kan veroorsaak dat ek 'n infeksie kry. Dit is op die oomblik steeds my grootste vrees. Tog dink ek dis een van die beste besluite wat ek in ‘n lang tyd geneem het, maar terselfdertyd is dit ook een wat my tans op ‘n hoogspanningskoord laat loop.
Ek het verby hierdie probleem probeer leef en inderdaad, tydens die jare wat ons by die strand gewoon het, het my swak sig my nooit gepla nie. Daar was genoeg ander soorte ontspanning wat my aandag afgetrek het. Vandat ons onbeplande lang vakansie tot ‘n einde gekom het, het ek egter telkens oor hierdie struikelblok geval. Soms letterlik.
Die eerste lens is ‘n rukkie gelede al vervang en ek verwonder my aan die feit dat ek so goed kan sien met my regteroog wat voorheen die swak oog was. Ek loop in die gang af en maak my linkeroog toe, en onmiddellik sien ek alles om my so helder, maar ek is heeltemal van balans af en loop in die mure vas. Ek het my ander oog ook nodig.
Die linkeroog se lens sou vervang word ‘n week na die eerste een, maar o wee — die ironie van hierdie saak laat my om die beurt lag en huil — my oogarts het ‘n ooginfeksie opgedoen. Natuurlik kan hy nie aan my oog werk terwyl hy self 'n infeksie het nie, en my operasie is uitgestel tot die einde van hierdie week (22 Oktober).
Intussen gedra ek myself so stil as moontlik. Ek bly by die huis om te voorkom dat ek kieme opdoen daar in die buitewêreld en ek probeer om nie my nuwe lens te ooreis nie. Ek raak so min as moontlik aan my sleutelbord en luister die grootste gedeelte van die dag na oudioboeke of musiek. Ongelukkig raak ek baie maklik aan die slaap met die klank in my oorfone, en dit beteken dat ek my dae omslaap ... en dan my nagte omstoei met nagmerries.
Nog ‘n dag of twee totdat ek weer in die teater is, en dan die voorgeskrewe tien dae van rus en stilte om te verseker dat ek nie my tweede nuwe lens skade aandoen nie.
Ek wil hierdie episode in my lewe regtig nou net agter die rug kry en natuurlik hoop ek met my hele wese dat dit suksesvol sal afloop. Om net normaal te kan sien, is op die oomblik my enigste ideaal. Kruis asseblief julle vingers en dink aan my.
Uitgeligte beeld: Hierdie is 'n KI-gestileerde foto van my oog, en as jy mooi kyk, sal jy die weerkaatsing van my dogter (die fotograaf) in die lens sien.







19 Comments