M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Homepage

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Tuisblad

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2021–2022 | ’n Nuwe Normaal, Totdat die Dood Intree en Alles Verander

Sep 27, 2026 | Cancer, Journal | 8 comments
Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

’n Nuwe normaal, totdat die dood intree en alles verander. Elke keer as ons gedink het ons lei nou bloot ’n normale lewe, het die lewe ’n skerp wending geneem en ons normaal verander.

Selfs ná die operasie in Mei 2021 om die bloeiende bloedvate in my neus te skroei en my skeefgegroeide neusskotjie reg te maak, het ek steeds af en toe ‘n neusbloeding, 'n toe neus en chroniese oorinfeksies ondervind. Ek kon steeds nie behoorlik asemhaal nie.

Nádat  my grommet ‘n derde keer vervang is, het 'n hewige oorpyn my in die noodgevalle-eenheid van dieselfde privaathospitaal laat beland waar ek voorheen 'n paar dae in die yskoue chirurgiese vleuel deurgebring het, wagtende op my COVID-toetsuitslae gewag. Dit was net na agtuur op 'n besige Saterdagaand. Al die apteke was reeds toe, en ek kon nie my huisdokter of oor-neus-en-keelspesialis in die hande kry nie.

Die dokter by noodgevalle was in 'n slegte bui. Ek ook. Dit het gelyk of hy dink ek is maar net nog 'n dwelmverslaafde wat die personeel probeer kul om gratis medikasie te kry. Al wat ek wou hê, was verligting vir die skerp pyn in my oor. Ek het my troefkaart gespeel en my mediese fonds se na-ure hulplyn gebel om 'n klagte oor hom in te dien. Ek het my medikasie gekry, en Maandagoggend is my grommet vervang.

Ek het daarop aangedring dat al die vorige toetse en skanderings vir kanker herhaal word. Ek ken my liggaam. Ek ken my regte. Iets was fout, en ek kon voel hoe die Wolf in my nek blaas. Hierdie keer het my huisdokter 'n toets vir 'n longinfeksie ingesluit. Die uitslae was negatief. Ek was nie tevrede met die uitslae nie.

Nadat my huisdokter en onkoloog oorleg gepleeg het, het hulle my na 'n torakschirurg verwys. Om buite jou gewone woongebied te reis was destyds steeds verbied weens die COVID-maatreëls; ek moes aansoek doen vir 'n spesiale permit en reëlings tref vir ekstra petrol om na 'n hospitaal in Umhlanga te ry vir my afspraak.

Ek het vir Karen plek in ‘n hotel naby die hospitaal bespreek. Ek moes 'n prosedure ondergaan om vloeistof uit die borsholte te dreineer en te laat ontleed. Hulle het twee en 'n half liter vloeistof rondom my longe verwyder, en uiteindelik kon ek weer vrylik asemhaal. Die toetsresultate negatief. Ek was nie verbaas nie.

My gesondheid het steeds agteruitgaan. Ek het geen energie gehad nie, maar ek was nie van plan om op te hou soek na die oorsaak van my verlies aan lewenslus nie. Gelukkig vir my het ek 'n onkoloog gehad wat geglo het in haar pasiënt se intuïsie.

Hierdie keer het sy reëlings getref vir 'n PET-skandering, by dieselfde hospitaal in Umhlanga. Hierdie keer was die resultate nie negatief nie. Hulle het die kanker gevind wat stilletjies na my bekkenbeen versprei het. Verdere doelgerigte bloedtoetse het bevestig dat my kankermerker verhoog was. Stadium 4-borskanker.

Ek het geweet wat dit beteken. Geen genesing nie.

Die onkoloog moes nou die mees geskikste behandeling vir my spesifieke tipe kanker bepaal. Sy moes seker maak waarmee ons te doen het voordat sy kon besluit hoe om die siekte die beste te beheer en my sorg vir die res van my lewe te bestuur.

Die oomblik toe die diagnose bevestig is, het ek besluit om hierdie inligting privaat te hou. Buiten my onmiddellike gesin, het ek slegs my naaste vriende ingelig.

Die woorde wat ek nou neer skryf, is die eerste openlike erkenning dat die Wolf my aan die gat gebyt het. Weer eens.

My rede hiervoor was eenvoudig: Ek het geweier om toe te laat dat kanker my lewe oorheers.

Ek het in die twee dekades sedert my eerste diagnose genoeg van kanker gehad. In 2021 wou ek steeds nie oor kanker praat, na stories luister oor ander mense wat aan kanker ly en sterf, of ongevraagde raad oor kanker ontvang nie.

En die verveligste van alles: ek wou nie my tyd daaraan bestee om te probeer raai wanneer ek sou sterf nie. My kristalbal was stukkend. My dokter s'n ook.

Ek maak hierdie diagnose nou bekend omdat dit 'n lewensjoernaal is, en die inligting in hierdie tydlyn tuishoort. Ek wil steeds nie oor kanker praat nie.

Ek sal dit wel sê: ek is nie oortuig daarvan dat die kanker self die direkte oorsaak van my dood sal wees nie. 'n Ernstige infeksie of siekte, soos longontsteking of griep, is ook 'n bron van kommer, aangesien die kanker en die behandeling daarvan my immuniteit kan beïnvloed.

Hoe dit ook al sy, ek sal sterf wanneer die tyd aanbreek, of wanneer ek besluit dat ek genoeg gehad het. Tot dan is ek van plan om die beste lewe te lei wat ek kan.

Die onkoloog het hormoonbehandeling voorgeskryf vir my HR-positiewe, HER2-negatiewe metastatiese borskanker. Die behandeling was daarop gemik om in te meng met die estrogeenseine wat die kankerselle aanspoor het om te vermeerder. Vandat ek aan die einde van Julie 2021 met die behandeling begin het, het ek onmiddellik beter begin voel. Dit het nie lank geduur voordat ons na ons vorige leefstyl kon terugkeer nie.

Wanneer iemand in die daaropvolgende vyf jaar na my gesondheid gevra het, het ons bloot gesê dat ek hormoonbehandeling ontvang. Wat toevallig die waarheid was.

Ná die diagnose het ek besluit om my gesin voor te berei op 'n lewe sonder my. Ek het begin deur die hele gesin se testamente na te gaan. Ek het die testamente soos 'n ry dominostene gerangskik en in die proses myself en Daniel onterf. Ek wou hê my kinders moes toegang tot en beheer hê oor die geld wat hulle sou nodig hê om na hul pa om te sien wanneer ek nie meer daar sou wees nie.

Ek weet baie mense sal jou aanraai om nie al jou bates voor jou dood tot jou kinders se beskikking te stel nie. Ek neem aan dit maak sin as jy baie geld het. En gierige kinders. Ek het besluit om my kinders te vertrou.

Gegewe my geskiedenis met kanker, het ek verwag om eerste te sterf. Maar dit was my nie beskore nie. Die dood het ander planne gehad.Ons het probleme begin ondervind met lekkasies in die grasdak van ons eenheid, daarom het ek 'n huurkontrak vir 'n ander eenheid onderteken – een met 'n stewige grasdak wat met Harvey-teëls bedek was. Twee weke voordat ons na die nuwe eenheid sou trek, het 'n hewige reënstorm losgebars.

Die dak het weer begin lek. Daniel het op die nat badkamerteëls gegly, geval en sy heup gebreek. Ons het 'n ambulans ontbied, en binne 'n halfuur is hy in die trauma-eenheid van die provinsiale hospitaal opgeneem. Hy was sterk gesedeer, maar in 'n goeie bui en vol grappies. Ons het hom twee keer gedurende die dag gesien, en die dokter het belowe dat hy die volgende dag vir 'n heupvervangings-operasie geskeduleer sou word.

Net na vyfuur die volgende oggend het Karen my wakker gemaak. As sy naasbestaande volgens die hospitaalrekords, het sy 'n oproep ontvang waarin sy ingelig is dat haar pa 'n uur tevore oorlede is.

Sy het daarop aangedring dat ek die hospitaal bel en vir hulle sê dat hulle 'n fout gemaak het. Ek het wel gebel, maar slegs om 'n afspraak te maak om sy liggaam die volgende oggend om agtuur te besigtig. Na soveel dekades saam, voel jy die waarheid met jou hele wese aan.

Dit was twee dae voor Louis se verjaardag en twee weke voor Kersfees. Die kinders was verslae.

'n Deernisvolle dokter wat vertroud was met Daniel se mediese geskiedenis, het verduidelik dat selfs 'n suksesvolle operasie vir hom nog baie jare van pyn en ongemak kon beteken het. Ons het almal saamgestem dat Daniel 'n vroeë dood bo daardie vooruitsig sou verkies het.

Op hierdie wyse het nóg 'n "normale" bestaan begin. Corné wou hê ons moes na Gauteng trek om by hom te gaan woon, maar hy het in 'n piepklein woonstel gebly.

Ek en Karen het besluit om voort te gaan met die planne wat ons reeds gemaak het. Die huurkontrak vir die nuwe eenheid is reeds vir nog 'n jaar onderteken, en ons sou soos beplan in 2023 daarheen trek. Dus, ten spyte van alles wat gebeur het, het niks onmiddellik verander nie. Ons het in KZN aangebly.

Ons het in 2023 na ons nuwe eenheid getrek en nog 'n jaar daar gebly voordat ons uiteindelik in 2024 na Gauteng verhuis het.

Só het die lewe weer eens 'n onverwagse wending geneem. Ek het 'n groot deel van 2021 daaraan bestee om my gesin voor te berei op 'n toekoms sonder my. In plaas daarvan was Daniel weg, en Karen en ek moes besluit hoe om voort te gaan.

Vir eers het ons egter 'n huis, 'n dak oor ons koppe en 'n plan gehad.

Soms is dit genoeg.

So het die jaar 2022 ten einde geloop.


Hooffoto: KI-geïllustreerde foto van my en Daniel circa 2020

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

8 Comments

  1. perdebytjie

    Boeiend geskryf.

    Reply
    • Hester Nel

      Dankie By. Het jy al op jou vingers getel om te sien hoeoveel jaar lank jy al weet van hierdie diagnose?

      Reply
  2. Tannie Frannie

    Dankie vir die skakel hierheen. Jou verhaal bly, by die herlees in Afrikaans, ‘n verstommende storie van vasbyt!

    Reply
    • Hester Nel

      Dankie Frannie.

      Reply
  3. scrapydo2.wordpress.com

    Ek haal my hoed af vir al die besluite wat jy stelsematig deur al die jare moes geneem het. Ook bly dat jy ‘n onkoloog het wat jou aanvoelings in ag neem as daar besluit geneem moet word. Dan verstaan ek ook baie goed hoekom jy nie daaroor praat nie. Dankie dat jy alles so openlik beskryf. Ek vermoed daar is baie mense wat hier by jou kan aanklop om ekstra ondervindings te kan lees. Sterkte vir dit wat nog voorlê, klink so alledaags maar ek bedoel dit werklik uit die diepte van my hart.

    Reply

Talk to me | Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors