Hoe nader ons die einde van die reeks behandelings gekom het, hoe erger het die chemikalieë my gesondheid beïnvloed.
Ek het my ma en haar versorger huis toe gestuur na die eerste chemosessie. Sy was reeds in haar vroeë tagtigs toe ons my oudste broer die vorige jaar aan dikdermkanker verloor het. My eie diagnose en behandeling het haar swaar getref. Sy wou so graag vir my sorg deur my die kossoorte en medisyne te gee wat sy gedink het ek nodig het om gesond te word. Ongelukkig het my kinders en hul ouma nie goed oor die weg gekom nie, en wanneer ek so siek gevoel het, kon ek die gewoel en stryery rondom my nie verdra nie.
Destyds het ons in 'n ruim tweeslaapkamerwoonstel gewoon, maar uiteindelik moes ek vir my ma verduidelik dat te veel mense wat na my welstand omsien, my net sieker laat voel het. Ek het my spasie nodig gehad. Ek het stilte nodig gehad.
Toe dinge dus verkeerd begin loop het die dag waarop ek die laaste behandeling ontvang het, kort voor Kersfees, moes ek swaar op my twee jong kinders leun. Die onkoloog het daardie einste dag die dorp verlaat vir sy jaarlikse vakansie. Ek het weer siek en naar gevoel, maar teen hierdie tyd was ek gewoond aan hierdie reaksie en het geweet dit sou uiteindelik verbygaan.
Ek en Ollie het vroeg gaan slaap. Maar om nege-uur daardie aand het ek wakker geword, my slaapklere en beddegoed sopnat van die sweet, en na die toilet gestruikel om die laaste druppel vloeistof in my reeds uitgedroogde liggaam op te gooi. Ek het van balans af gevoel en ek kon my hart in my ore hoor klop.
Ek het na Karen geroep, en my stemtoon moes haar gewaarsku het dat iets ernstigs verkeerd was. Ek het niks gesê nie, net my arm uitgesteek sodat sy my polsslag kon neem. Dit was nog 'n gesondheidstoestand waarmee ek al lank gesukkel het – sonder waarskuwing en skynbaar sonder goeie rede, het my polsslag al vinniger geword totdat dit gevoel het asof my hart galop soos 'n wegholperd. My huisdokter behandel my al jare lank met 'n lae-dosis beta-blokker.
Hierdie keer was my polsslag nie net vinnig nie; dit het letterlik op en af gespring en 'n paar slae gemis voordat dit weer weg galop het. Karen se eerste reaksie was om die onkoloog te bel, maar hy was reeds weg met vakansie. Die enigste ander opsie was om my so gou as moontlik by die kliniek se trauma-eenheid te kry, gelukkig net vyf minute se ry van ons woonstel af.
Toe ons daar aankom, het die dokter aan diens die traumapersoneel beveel om my hartklop te begin monitor terwyl die saalsuster die kardioloog aan diens laat roep het. Soos Murphy se Wet dit wou hê, was die kardioloog besig met 'n ander noodgeval, en ons moes vir hom wag.
Karen en Corné is uit my afskorting verban en moes buite in die gang wag. Ek kon hulle hoor praat met die personeel, wat baie besig was en nie hul vrae kon of wou beantwoord nie. Hulle het by die minuut meer gespanne geword, strydlustig, moet ek sê. Ek het geweet hulle kon die deurdringende gepiep van die hartmonitor hoor, en hulle het maar te goed geweet dat die masjien se alarm, wat met irriterende gereeldheid gehoor kon word, 'n teken was van 'n hart wat te vinnig of te onreëlmatig klop.
Binne die afskorting het ek self ontsteld geraak. Ek kon my kinders se histeriese gille hoor elke keer as die alarm afgaan, en ek het geweet ek moes hulle gerus stel dat dit ook sou verbygaan. Maar eerste dinge eerste; dit het gevoel asof my blaas op die punt is om te bars, maar niemand het tot my redding gekom nie. Ek het begin om die elektrodes wat my aan die verskillende masjiene verbind het, te verwyder, en die hartmonitor het 'n lang, skril geluid gemaak. Oproer het gevolg. Beide die dokter en saalsuster het aangehardloop gekom terwyl die junior personeel my kinders verhoed het om by my afskorting in te bars.
Ek het nooit die kardioloog daardie aand gesien nie. My toelating is vinnig geprosesseer na al die oproer en ek is in 'n rolstoel met 'n lang gang af gestoot, met die piepende monitor weer aangeheg, en my twee kinders agterna. Blykbaar het die kardioloog telefonies medikasie en behandeling voorgeskryf, en my kinders is verseker dat ek nie in onmiddellike gevaar verkeer nie, maar oornag vir waarneming in die kliniek moes bly. Ek kan my voorstel dat hulle 'n redelik slapelose nag deurgebring het, maar ek het ook niks geslaap nie
In die Intensiewe Sorgeenheid (ISE/ICU) is ek vol chemikalieë gepomp en aangesê om te slaap, met al die masjiene en drade nog aangeheg. Die masjiene het gepiep en getoeter in pas met my hart, nou stadig, dan hopeloos te vinnig, dan glad nie. Met al die geraas en die ligte wat helder in die saal skyn, kon ek glad nie slaap nie. Ek het net daar gelê, na die piepgeluide geluister en die monitors dopgehou om te sien of ek nog leef. Ek het saggies Jingle Bells vir myself gesing op die maat van die gepiep- en getoet van masjiene. Want Kersfees was baie naby en ek het probeer kalm bly.
In die bed langs my het 'n ander bejaarde dame se hartmasjiene net soveel geraas gemaak. Sy kon ook nie slaap nie, so sy het saam met my gesing terwyl sy haar hare geborsel het met een van daardie battery-aangedrewe haarborsels wat vibreer en 'n mens se kopvel masseer. Jy weet? Hoe dit ook al sy, uit 'n hoekbed het 'n ou, bewerige stem skielik gesê: "Skakel asseblief daardie radio af en sê in hemelsnaam vir daardie vrou om nie haar dildo hier te gebruik nie!"
Natuurlik het ek en my medelyer uitgebars van die lag en al die pasiënte in die saal wakker gemaak. Die fronsende saalsuster het nog 'n rondte slaappille uitgedeel. Iewers gedurende die nag het my hart bedaar, en ek het ook aan die slaap geraak. Stiptelik sesuur die volgende oggend het 'n klomp kardioloë opgedaag vir hul oggend-saalrondtes, en ek het wakker geword om 'n onbekende man met die mooiste krullerige grys hare en helderblou oë te vind wat my hand vashou, of miskien was hy net besig om my polsslag te neem, as ek daaraan dink. My monitor het vir 'n oomblik daar mal geraak. Hy sê ek het ‘n episode van atriale fibrilasie (A-Fib) beleef en moet nog ‘n dag in die kliniek deurbring, vir waarneming.
Toe kom dieselfde ou bewerige stem weer uit die hoekbed: "Jy beleef nie net al die pret in die middel van die nag nie, maar jy kry ook die enigste mooi ding onder daardie ou spul!"
Hooffoto: KI-illustrasie van 'n vrou wat wakker lê in 'n waakeenheidbed, omring deur hartmonitors, en die bestendige gepiep van masjiene as musiek verbeel om kalm te bly deur die nag.







Ek en AI het die liedjie hier bo geskryf en die Suno app het die melodie bygelas. Daar is ‘n klein skakeltjie regs bo in die hoekie van die Suno prentjie (thumbnail). Klik daarop om die lirieke te sien terwyl die liedjie speel.
Soveel trauma, maar dit eindig soos ‘n roman. Die liedjie is “tops.”
Dankie Lana
Sjoe, dis spanning en trauma ineen geweef!
Kostelike liedjie.
Dankie By. Mens tree eienaardig op wanneer die Bang jou vang.