M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Homepage

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Tuisblad

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2001 | Chemoterapie: My Dogter se Krag en ‘n Legkaartstuk Versterk my Wil om te Leef

Mei 5, 2026 | Cancer, Journal | 5 comments
Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

Karen, tot op daardie stadium 'n tipiese humeurige, parmantige, selfsugtige en lui tiener, het oornag volwassenheid bereik en stilweg my rol in die huishouding oorgeneem. Sy het die wasgoed gewas, kos gekook, huis skoongemaak, ons kruideniersware aanlyn bestel en haar ma in die bad gedruk vir 'n broodnodige bad en haarwas wanneer nodig. Tussen al hierdie verantwoordelikhede deur moes sy leer vir haar jaarlikse eksamens.

Toe, op ‘n dag, het sy die legkaart wat ek vir haar verjaarsdag gekoop het, uitgepak en die stukke begin sorteer. Sy het my genooi om by haar te kom sit, en my taamlik onwillige hand het asof vanself oor die tafel begin beweeg om haar te help. Ons het oor dit en dat begin gesels, en 'n paar dae later het sy my baie direk gevra of ek sou doodgaan. Dit was die skok wat ek nodig gehad het om te besef hoeveel skade ek my kind aandoen deur myself in stilte en woede te isoleer. In haar het ek 'n uitstekende aansporing gehad om te lewe. Ek het daar en dan vir haar belowe dat ek alles in my vermoë sou doen om die siekte te oorkom.

Om my te onttrek van my lewe en toekoms was nie 'n opsie nie. Karen het nie veel van haar pa gesien na die egskeiding nie en het hom skaars geken. Vir die afgelope vyf jaar het sy slegs sporadiese kontak met hom en haar twee broers gehad. Behalwe vir haar bejaarde ouma en ek, het sy niemand anders gehad om op staat te maak vir sorg en onderhoud nie. Boonop het Karen en ek oor die jare baie na aan mekaar gegroei omdat sy soos 'n enigste kind grootgemaak is.

Na 'n paar weke was die legkaart klaar, behalwe vir een blokkie wat in die niet verdwyn het. Reg in die middel van die voltooide legkaart was daar 'n opening. Ons het hoog en laag gesoek, rakke en laaie uitgepak en weer ingepak, maar daardie klein stukkie was nêrens te vinde nie. Die klein opening in die legkaart het 'n onoorkomelike hindernis geword, wat my sommer van vooraf siek en mismoedig laat voel het.

Drie dae later het ons weeklikse skoonmaker die vermiste legkaartstukkie in die stofsuiersak gevind. Ons vreugde was groot! Ek het die eer gehad om die laaste stukkie van die legkaart in te pas, en skielik het dit gevoel asof my lewe weer onverklaarbaar heel geword het. Ons het versigtig 'n stuk karton onder die legkaart ingeskuif en die stukkies vasgegom. Die vriendelike man by die kunswinkel het dit vir ons geraam, en die luiperd het sy ereplek teen ons muur ingeneem.

Terwyl ek besig was om die geraamde legkaart op te hang, het ek besef dat dit vir my 'n simbool geword het van 'n lewe wat herstel kon word. Die maandelange behandeling wat voorgelê het, was nie meer so skrikwekkend nie. As ons 'n ingewikkelde legkaart kon voltooi, kon ons 'n nuwe lewe bou. Weer ‘n keer.

Aangesien al die toetse goeie resultate opgelewer het en daar blykbaar niks met my verkeerd was nie, as jy dit so kon stel, wou die onkoloog binne dieselfde maand na die mastektomie met die chemoterapie begin. Hy het verduidelik dat die volle behandeling oor 'n paar maande geskeduleer sou word. Ek sou elke drie weke vir binneaarse chemoterapie moes aanmeld.

Hy het my gewaarsku dat elke sessie my vir 'n paar dae sou laat siek voel en het voorgestel dat ek met my normale aktiwiteite tussen behandelings moes voortgaan, om te voorkom dat ek mismoedig en bedruk begin voel. Hy het voorgestel dat ek alle chemosessies op Donderdae bywoon, wat my 'n drie dae rusperiode oor die naweek sou gee voordat ek Maandag terugkeer werk toe.

Toe het hy my aan sy bekwame mediese assistent gaan voorstel, wat my gewys het waar ek die volgende week moes aanmeld.

Hulle was besig om chemikalieë toe te dien aan ongeveer tien pasiënte wat agteroor in 'n kring leunstoele gesit het, die soort waarin 'n mens 'n rustige middagslapie kon geniet, wat presies was wat sommige van die pasiënte gedoen het. Tot my uiterste verbasing het van die pasiënte lewendige gesprekke gevoer en tuisgemaakte sjokoladekoek geniet wat een van die dames saamgebring het. Hierdie mense het kanker gehad, en hulle het geëet en gesels asof kanker die natuurlikste ding in die wêreld was! Wat was fout met hul denkprosesse?

Ek is ook 'n stukkie koek aangebied, maar dit het my maag laat draai, en ek het dit van die hand gewys. Ek het net so gou as moontlik daar uitgeglip.

Ek is voor die tyd gewaarsku dat die toediening van die chemikalieë ongeveer twee uur per sessie sou neem en dat ek ‘n boek of ‘n handwerkie moes saambring om myself besig te hou. Kort daarna het ek, gewapen met 'n pakkie neute, 'n bottel koeldrank en 'n boek, by Suster Vampier se kantoor aangemeld waar sy my bloed sou trek voor elke behandeling. Nadat die bloedtelling as bevredigend verklaar is, is ek in my gemaklike leunstoel tuisgemaak, en drie sakke vol vloeistof is aan 'n haak bo my kop gehang.

Tydens my eerste behandeling het my boek ongelees gebly. Ek het my oë dig toe gehou en net deur my wimpers na die ander pasiënte geloer. Hulle was almal goed vertroud met die prosedures en het rustig stil gesit, koerante gelees, gebrei of gehekel en soms met mekaar gesels. Blykbaar was dit net ek wat letterlik my tong moes vasbyt om die inhoud van my maag binne te hou.

Later daardie aand het naarheid toegeslaan, en ek het 'n aansienlike hoeveelheid tyd gebukkend oor die toiletbak deurgebring. Dit sou die norm word na elke chemosessie, en dit het met elke toediening erger geword. Vergesel deur Ollie, die vet kat, het ek vroeg op 'n Donderdagaand in die bed gekruip, net om die volgende dag nog meer mislik te voel.

Teen Saterdagoggend kon ek myself uit die bed sleep om 'n sigaret te rook. Dis wonderlik hoeveel daardie eerste sigaret na 'n tydperk van onthouding vir 'n kettingroker beteken het. Ek het dadelik beter gevoel. Deesdae sidder ek by die gedagte daaraan om te rook terwyl ek chemoterapie ontvang. Ek het in my latere jare opgehou rook, en soos alle gewese rokers, haat ek die reuk van sigarette.

Ollie het na elke chemosessie by my geslaap. Sy het op my slegte dae in my kamer gebly, en sodra ek goed genoeg gevoel het om op te staan, het sy teruggetrek na Karen se kamer. Dit het 'n patroon geword gedurende die tydperk wat ek behandeling moes ondergaan.

Maandagoggende kon ek teruggaan werk toe, maar ek was so moeg en afgerem dat ek gewoonlik net ná middagete huis toe gestuur is. Teen Dinsdag het ek gewoonlik beter begin voel, selfs heel goed, tot die volgende rondte chemo.

Hierdie patroon het homself herhaal oor vier siklusse drie weke uitmekaar. Aan die einde was die onuitspreeklike moegheid en die naarheid deel van my daaglikse roetine, en ek het net probeer om daarmee saam te leef na die beste van my vermoë.


Hooffoto: Gestileerde foto van 'n geraamde legkaart teen 'n muur weerspieël 'n luiperd wat in 'n boom lê wat in 'n boom lê.

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

5 Comments

  1. perdebytjie

    Jy beskryf dit so goed, dat ek dit saam met jou beleef.

    Reply
    • Hester Nel

      Jy ken ook my storie so goed Bytjie, jy is een van die mense wat my dag vir dag help om om elke stukkie van my legkaart op sy plek in te pas.

      Reply
  2. Lana Wood

    Jy beskryf dit so goed Hester, en daardie legkaart pas goed in by die pad wat jy moes loop. Lana

    Reply
    • Hester Nel

      Dankie Lana, dis so ‘n mooi kompliment. Ek dink ‘n mens se hele lewe is ‘n legkaart wat een na die ander stukkie in mekaar pas totdat dit voltooi is. Dis baie lekker om jou hier te sien.

      Reply
  3. Tannie Frannie

    Innig dankie, Hester, dat jy jou terugskouing benewens die Engelse weergawe ook in Afrikaans doen – ek waardeer dit so baie. Ag, die liewe Ollie-kat! So bly dat julle daardie laaste legkaartstukkie kon inpas. (Vir my bly die geur van sigaretrook ‘n ewige verleiding – ek snuif skelm en heerlik wanneer ek verby die ongerehabiliteerde rokers loop …)

    Reply
    • Hester Nel

      Ons taal bly maar lekker om te lees en te praat en na te luister, nè Frannie. Dankie dat jy ingeloer het. Ag, ja, dierbare Ollie. Sy was vir amper 18 jaar saam met ons. Sy het later so effe dik begin word, maar het nog steeds daarop aangedring om bo-op die ou kombuistafel te eet al kon sy nie meer opspring nie, vyfuur in die oggend. Daniel is die een wat haar elke oggend opgetel en langs haar kosbak neergesit het, en dan het hy gesê hy verrig sy Otis-pligte (Otis is mos ‘n hysbak ). Ag, nou loop die trane sommer. Dankie vir die inloer.

      Reply
      • Tannie Frannie

        Dis dierbaar, daardie herinnerinkies wat so onverwags opduik …

        Reply
  4. scrapydo2.wordpress.com

    Dis te dierbaar wat jy hier bo vertel van die Otis-pligte. Ek kan skoon tuissen my trane nie die regte lekkers raak getik kry nie. My PD brein registreer die letters maar die uitvoering kom nie deur na my vinger nie. Weet jy, ek besef nou eers as ek so hier lees en luister hoe swaar my liewe vriendin gekry het met haar chemo sessies. Ek het haar van Potgitersrus af na H F Verwoerd in Pta, gevat. Haar afgelaai(sy wou nie dat ek saam haar ingaan nie) en haar twee uur later opgelaai en teruggevat. Ewe moedig tuis het sy dan vir ons , koppie tee gemaak. Ek voel so hartseer, trane wil nie ophou loop nie. Dankie, nogmaals, vir jou skrywe.

    Reply
    • Hester Nel

      Dankie Scrapy, dit was moeilik, maar as ek iemand kon bereik deur my wedervaringe neer te skryf en te laat verstaan dat al hierdie dinge verbygaan, dan het ek al iets bereik. Sterkte met jou eie stryd – jy is ‘n moedige, sterk vrou.

      Reply
      • scrapydo2.wordpress.com

        Dis waar, daar gaan beslis mense soos ek wat vroeg in hul lewe moes vriende bystaan. Dankie vir jou bemoediging, party dae is dit nogal moeilik om positief te bly en nie maar op te gee nie. Veral omdat daar meer nie so goeie dae as goeie dae in ‘n week is.

        Reply

Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors