My ma was ongelukkig in die versorgingsoord vir bejaardes. Jare later, in nabetragting, het ek besef dat my ma nêrens op aarde ooit weer regtig gelukkig was vanaf die dag dat my pa oorlede is en sy hulle woonstel moes ontruim nie. Sy was net gelukkig toe sy en my pa saam was.
My pa was haar huis, haar hart, die groot liefde van haar lewe. Daar waar hy saans sy kop neergesit het op sy kussing, daar was haar huis. Hulle was bykans ‘n halfeeu getroud. Vir die res van haar lewe het sy almal rondom haar misrabel gemaak omdat haar hart en lewe so leeg was.
Ek wens ek het voorheen besef hoe diep sy gerou het; dan sou ek nie vir soveel jare lank met ‘n skuldgevoel rondgeloop het in die waan dat ek nie “genoeg” was nie. Soms wens ek ook dat ek ‘n klein bietjie van daardie soort geluk geken het. Ten minste het sy dit geken. Maar bo alles, wens ek dat ek geweet het hoe om haar te troos met my nabyheid. Ek besef nou dat sy vir Daniel, en ook in ‘n mate my kinders, verwens het omdat hulle te veel van my tyd opgeneem het. Maar in hoeveel stukke en brokke kon ek myself opbreek voordat ek heeltemal uitmekaar sou val?
Op die tweede dag nadat ons haar by die tehuis besorg het, het sy my gebel en daarop aangedring dat ek haar kom haal, want “die klomp ou mense hier gaan my mal maak”. Sy was toe in haar negentigs.
Ek en Karen het voordat my ma opgeneem is, persoonlik die tehuis besoek, al die fasiliteite bekyk en vooraf seker gemaak dat sy in goeie hande was, want ek was bekommerd oor beide haar fisiese en geestelike gesondheid. Die tehuis was bo verwagting goed ingerig, netjies en skoon, en ons was tevrede met die veiligheidsmaatreëls.
Ongelukkig moes ons nou my ma se vryheid ‘n bietjie inperk, want anders sou sy eenvoudig wegloop. Sy was nooit die tipe persoon wat haar onderwerp het aan gesag nie en sou alle reëls omseil waarvan sy nie gehou het nie. Sy is vir die eerste paar weke opgeneem in die eenheid waar die meeste pasiënte reeds in hul negentigs was en sommige het aan demensie gely. Haar verstand was nog helder, of so het ek gedink, maar ongelukkig het sy geen geduld gehad met mense wat ‘n bietjie stadig van begrip was nie.
Aan die begin moes sy ‘n kamer deel met ‘n ander ou dame wat, toegegee, ‘n bietjie lastig was. Sy wou heeldag gesels oor alles en nog wat; my ma moes meer as een keer ‘n dag al haar stringe krale wat die vrou self deurmekaar gewoel het, weer uitsorteer en sy het in my ma se oorvol kaste gekrap om te sien of daar lekkergoed is. My ma was gewoond aan haar eie groot kamer waar sy in rus en vrede kon lees en na musiek kon luister, en die ou dame se gedrag het haar die harnas ingejaag. Verstaanbaar. Ek het met die matrone gaan gesels en sy het ‘n ander kamermaat gekry.
Die volgende kamermaat het heeldag haar TV kliphard aangesit, die een daarna het geweier dat die kamervenster oopgemaak word, en my ma kon nie die gebrek aan suurstof hanteer nie. Ons het letterlik elke paar weke haar goed verskuif na ‘n ander kamer, waar nuwe probleme ontstaan het, totdat die matrone haar in ‘n ander afdeling, in ‘n privaat kamer, geplaas het. Toe het die groot eensaamheid weer oor haar toegesak.
Nog ‘n probleem in die tehuis was natuurlik dat van haar verwag is om aan tafel te eet. Sy het dae lank daaroor gehuil, want blykbaar het sy met die ander inwoners aan tafel rusie gemaak oor hulle kerkverband. Dis ‘n eienaardigheid hoe sulke bejaarde persone mekaar in die hare kan vlieg oor die kleinste dingetjie.
Dis net, vir my ma was godsdiens nooit ‘n kleinigheid nie. My pa het sy hele lewe op die Bybel geskoei, soos wat hy dit verstaan het, en sy het hom gevolg. Sy het amper handgemeen geraak met een van die mans in die tehuis wat hom vererg het vir ‘n prent van Jesus wat sy agter op haar Bybel geplak het. Hy het gedreig om dit af te skeur en sy het gedreig om sy kop af te ruk. So byna het sy haarself uit die tehuis laat skors en ons moes mooipraat.
Sy wou ook nie die kos eet wat in die tehuis voorberei is nie, want sy het nog steeds geglo dat sy aan IBS ly. Sy het vir haarself toebroodjies gemaak by my huis en dit saamgeneem om in haar kamer te gaan eet. Ongelukkig het sy dit in haar laaie gebêre en daarvan vergeet, en dit het miere aangelok. Dit was dieselfde argumente en stryd wat in ons eie huis gevoer is toe sy by ons ingetrek het.
Ons het weer met die matrone gepraat en hulle het vir haar die opgekookte hoenderboudjie en groentes voorgesit wat haar dieet glo voorgeskryf het. Dit was ‘n jammerte want die tehuis se kos was regtig smaaklik voorberei en aantreklik opgedis.
Nie baie jare later nie, het sy by ons gekla dat sy sulke afgewaterde kos kry, terwyl die ander inwoners heerlik smul. Die dieet het blykbaar iewers langs pad vergete geraak en sy het aan tafel geëet sonder enige beswaar.
Ons het haar nie aan haar eie lot oorgelaat nie. Ek het elke aand ná werk ‘n vinnige draai by haar gemaak om te sien of sy rustig is of dalk iets nodig het. Ons het haar naweke gaan haal om saam met ons op ons gewone gesinsuitstappies te gaan. Kersfees en haar verjaardag het ons elke jaar feestelik by ons huis gevier. Ons het ons eie sushi en samoesas gemaak en sy het heerlik daaraan gesmul. Sy het haar eie koekblik gehad wat sy vol klein koekies gepak en saamgevat het “koshuis” toe. Dis wat sy dit verwytend genoem het – ons het van haar ‘n koshuisbrak gemaak.
Ek kon nooit besluit of my ma verveeld was bedags en of sy opsetlik probleme veroorsaak het sodat hulle rede gehad het om haar uit te skop nie. Daar is byvoorbeeld die keer toe die hele tehuis nuut uitgeverf is aan die binnekant en al die kaste is vernis. Die oomblik toe my ma dit agtergekom het, het sy die vernis met haar naelvyl en ‘n stukkende liniaal afgekrap en toe Vicks aan die hout gesmeer. By ons aankoms het sy trots vir ons gewys hoe pragtig haar kaste nou blink.
Ek was verslae.
Sy het begin kla oor haar oë en ek het vir haar ‘n nuwe bril laat maak teen groot onkoste. Privaat pasiënt basis. Sy het ongelukkig net 40 persent sig in haar oë gehad, maar ek het gehoop die bril sal help. Sy was nie so seker nie en het begin om die ander inwoners se brille te gebruik; ons moes meer as een keer haar kas uitpak om die brille by hulle regte eienaars te besorg. Haar eie duur nuwe bril het sy stukkend gekap met ‘n klip buite in die tuin en op die personeel se navraag vir hulle vertel dis ‘n “useless” ou bril waarmee sy niks kan sien nie.
Sy het begin kla dat die werkers haar besittings steel en sy het begin om vir hulle “booby traps” te stel onder haar bed en in haar kaste. Sy het byvoorbeeld glase water in haar klerekas en laaie gehou. Ons het selfs stukke glas in haar laaie gevind. Sy het al haar besittings begin toedraai in servette of toiletpapier en dit in enige beskikbare boksie gedruk om dit “weg te steek”.
Toe het sy begin om haar kas se sleutel weg te steek sodat hulle nie in haar goed kon krap nie. Ongelukkig het sy vergeet waar sy die sleutel weggesteek het en dan is ons gebel om ons duplikaatsleutel te bring. Ons het ‘n hele paar stelle nuwe sleutels laat sny in daardie periode. Maar my ma het gou agtergekom dis ‘n vinnige en maklike manier om ons by die tehuis te kry. Op die ou end het ek haar kaste uitgepak en die meeste van haar besittings na my huis toe gevat. Toe het ek die sleutels weggegooi en die kaste oopgelos.
Ek was verslae en het nie geweet na watter kant toe nie. Iets was verkeerd en ek het weer by die dokter aangeklop. Hy het vir haar kalmeerpille voorgeskryf, met die waarskuwing dat dit verslawend is.
Ja, EN?
My ma is amper 94 jaar oud, sy mag seker maar nou verslaaf raak as dit aan haar ‘n beter lewe bied. Dit het baie gehelp en sy het definitief gebaat by die behandeling. Ek het baie dae gewens ek kon ‘n paar van daardie pille kry vir myself.
Karen was nie gelukkig met haar werk nie en het bedank om haar B.Com-studies te voltooi. Ek was nie gelukkig met my lewe in die algemeen nie en het vir die tweede keer in ICU beland met atriale fibrillasie. ‘n “Wegholhart” het die kardioloog dit genoem. Ek is op nuwe medikasie geplaas, ‘n beta blocker wat ek vir ‘n lang ruk gedrink het. Ek het besef dat ek iets sou moes doen omtrent my lewensgehalte.
Daniel se gesondheid het ook agteruit begin gaan. Hy was in baie pyn en sy medikasie het hom op ‘n ander planeet geplaas. Hy sou byvoorbeeld die tuinslang oopdraai om die grasperk nat te lei en dan daarvan vergeet. Die gevolg was waterrekeninge wat my asem weggeslaan het.
In ‘n poging om te ontspan, het ek en Karen nou en dan “ontsnap” vir ‘n paar dae en vakansie gaan hou in Mauritius, die Kruger Wildtuin en daar ver in die dorre Namakwaland. Ek het begin om ‘n streng dieet te volg en het omtrent 10 kilogram verloor deur saam met haar ver ente te stap en fiets te ry.
Ek het al hoe minder my opwagting by die tehuis gemaak en Karen het die rol van versorger oorgeneem. Sy het na beide haar pa en ouma se welstand begin omsien terwyl ek by die werk was, en het selfs betrokke geraak by die ouetehuis se aksies rondom stimulasie van persone met demensie en moontlike Alzheimer's. Op sonnige dae het Karen en Genis, ons poedel, tyd saam met Ouma in die pragtige tuine van die tehuis deurgebring. Solank Genis aan 'n leiband, skoon en behoorlik geborsel was, is hy deur die personeel en al die inwoners by die tehuis verwelkom.
Fisies het dit beter gegaan met my, maar geestelik het ek myself al hoe meer begin onttrek van die samelewing. Die belangstelling in my loopbaan was nie meer daar nie. In 2012 het ek uit my werk bedank, maar het voortgegaan om op kontrak te werk. Om terug te tree in 'n kontrakteursrol het my toegelaat om ou emosionele bagasie te laat vaar en die werk as 'n eenvoudige besigheidstaak te hanteer.
Uiteindelik, in 2014, het ek die handdoek ingegooi. Ek kon dit eenvoudig nie meer doen nie.
Corné, wat intussen in Sandton begin werk en in sy eie woonstel ingetrek het, het besef dat dinge skeefloop by die huis. Sy voorgestelde oplossing vir ons probleem sou ons lewens in ‘n hele nuwe rigting stuur.
Hoof foto: KI-gestilleerde foto van Ouma, Karen en Genis in die tuine van die versorgingsoord.







Hester jy het beslis baie meer werklike moeilike omstandighede beleef in jou leeftyd as wat ‘n gemiddelde vrou, moeder en kind kon meemaak. Jy het tog als moontlik gedoen om vrede en geluk te mag beleef wat regtig eintlik onmoontlik was. Baie bly jy kan nou daaroor dink, skryf en nabetragting doen. Veral die besef wat jy als beleef het maak dit moontlik om te kan berus en vrede in jou eie gemoed te vind.
Ek hoop van harte so Scrapy. Vrede was lank ‘n luuksheid in my lewe.