M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Homepage

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Tuisblad

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2010 | Die Besluit om my Ma in ‘n Versorgingsoord vir Bejaardes te Plaas

Aug 5, 2026 | Old Age, Journal | 10 comments
Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

Dit was nie ‘n maklike besluit om my ma in ‘n versorgingsoord vir bejaardes te plaas nie en sy het altyd vir Daniel kwalik geneem omdat sy deur sy toedoen ‘uit die huis geskop is’. Deels was dit waar. My ma self het die hele gesin se lewe, insluitende Daniel s’n, ongerieflik gemaak.

Die feit is dat nie een van die twee my lewe makliker gemaak het nie. Ek en my ma het nooit regtig ‘n baie goeie verhouding gehad nie, hoewel ons in die laaste jare voordat sy by my ingetrek het, beter oor die weg gekom het. Daniel het, wat my aanbetref, glad nie daar behoort of enige sê gehad in my gesinslewe nie. Maar hulle voortdurende gekibbel het my amper mal gemaak.

Die dag toe ek gedink het my ma het ‘n beroerte-aanval gehad, het die huisdokter na ‘n deeglike ondersoek besluit om my ma in ‘n mediese fasiliteit te laat opneem waar hulle haar vir ‘n paar dae kon dophou. Hy het nie gedink dis ’n beroerte nie, maar hy wou haar opneem vir observasie deur opgeleide personeel wat verslag kon doen oor haar toestand, sodat hy kon besluit hoe om haar te behandel.

Gelukkig was daar plek vir haar in ‘n hersteloord naby ons huis en hy het dadelik reëlings getref om haar te laat opneem, terwyl ek aan my bankbestuurder gaan verduidelik het hoekom ek dringend my oortrokke fasiliteit met nog ‘n paar duisend rand moes verhoog. Alweer.

My ma het nie besef dat ‘n mens veronderstel is om vir mediese dienste te betaal nie. My pa het baie jare vir ‘n mynmaatskappy gewerk waar mediese sorg gratis verskaf is aan die hele gesin wat afhanklik was van sy sorg. Nettie, voorheen my ma se versorger, het haar ook altyd na ‘n privaatdokter en -kliniek geneem. Ek het daarvan geweet en bygedra vir die koste van haar medikasie en doktersbesoeke, maar op daardie stadium was sy nog taamlik gesond. Natuurlik was my ma vas oortuig daarvan dat dieselfde reëls nou moes geld vir die mediese sorg wat sy nodig gehad het en wat mettertyd meer kompleks en heelwat duurder geword het.

Ek het probeer om vir haar te verduidelik dat my mediese fonds net my behandeling gedek het, en dat ek dit nie kon bekostig om haar by te las as ‘n afhanklike op my fonds nie. Buitendien is ek deur ‘n onkoloog behandel, nie deur ‘n gewone mediese praktisyn nie. Enige behandeling wat sy nou gekry het, moes ek uit my eie sak betaal. Boonop moes ek dubbele fooie betaal vir alles, omdat al haar doktersbesoeke nou ná ure plaasgevind het, want anders as Nettie was ek nie bedags by die huis om haar dokter toe en kliniek toe te neem nie. Niks hiervan het op haar indruk gemaak nie.

Sy het konstant geweier om gebruik te maak van dienste wat die plaaslike regeringskliniek in die dorp aangebied het. Haar verskoning was dat die rye te lank is en dat haar lyf seer word van die lank sit en wag op harde banke. Dit was ongelukkig die waarheid – by die klinieke het jy lank gewag en net oppervlakkige behandeling ontvang. Buitendien het sy geen geloof gehad in die medikasie wat hulle vir haar voorgeskryf het nie. Dit het beteken dat ek haar vir elke kwaal wat sy nie uit haar eie persoonlike medisynetrommel kon regsien nie, na my huisdokter moes neem waar ek die fooie vir ‘n privaatpasiënt uit my eie sak moes betaal.

Boonop, het sy geweier dat Daniel haar dokter toe neem. Sy wou niks met hom te doen hê nie en het skaars met hom gepraat, behalwe om ‘n stryery op tou te sit. Sy sou wag totdat ek in die aand by die huis gekom het om haar nuutste kwaal aan te kondig sodat ek haar na die na-uurse privaatkliniek kon neem, teen ‘n ekstra fooi natuurlik.

Wanneer ek my ma nie na die huisdokter toe geneem het nie, het sy haar eie konkoksies gedrink, wat veroorsaak het dat sy gereeld diarree gekry het. Aangesien sy daarop aangedring het om ‘n draagbare toilet in haar kamer te gebruik, het die reuk van haar diarree permanent in die huis gehang.

Dit het my niks gehelp om vir Daniel te vra vir hulp nie, want hy het bloot gemeen dat sy net aan ipekonders gely het en ‘n moeilike ou vrou was wat op aarde geplaas is om sy lewe misrabel te maak. Hy het (volgens hom) nie tyd gehad vir onsin nie, maar het sonder meer aanvaar dat ek hom by die dokter of hospitaal sou besorg vir sy maandelikse ondersoeke en behandeling. Het ek hierteen baklei? Nee, want dit was doodeenvoudig makliker om toe te gee. Al die gestry en baklei het net my lewe moeiliker gemaak.

My ma het die grootste versameling van pille en botteltjies vloeistowwe van twyfelagtige aard in ‘n trommel aangehou. Elke nou en dan het sy die pille uitgepak, in die helfte deurgesny as hulle ‘n bietjie te groot gelyk het en dan die spulletjie weer teruggepak in ander houers. En natuurlik het die medisyne deurmekaar geraak en moes ek by die apteker gaan aanklop om hulle te identifiseer.

Meestal het ek haar eenvoudig gelos om te doen wat sy wil en haar dokter toe gevat wanneer ek gedink het sy was regtig siek. Verder het ek net my geloof geplaas in die feit dat ek nog nooit van iemand gehoor het wat dood is aan ‘n oordosis jamaikagemmer, knoffelpille en vars pietersielie nie. Ek het dit nogal eienaardig gevind dat sy haar verkoues behandel het deur Vicks sommer so uit die bottel te eet, maar blykbaar het dit haar nie enige skade aangedoen nie. Om die waarheid te sê, sy het op die oog af nogal ‘n gesonde gestel gehad.

Ek het wel die sterk hoofpynpille wat sy gereeld by die apteek bestel het, vervang met ‘n lae dosis parasetamol, omdat ek geweet het die mengsel van kodeïn, kaffeïne en antihistamien nie gesond kon wees vir iemand van haar ouderdom nie. Solank as wat die pille geel was, het hulle blykbaar gehelp vir alles. Die sterker hoofpynpille het ek sommer self gedrink wanneer nodig vir my eie hoofpyn. En dit was baiekeer nodig. Die dokter het weer vir my Imigran begin voorskryf vir migraine en ek het dit dikwels ingespan om net deur my dag te kom. 

Om die gevegte ‘n bietjie meer kleur te gee, moes Daniel natuurlik ook sy opinie uitspreek oor die toordokter-medikasie en die stinkende grafsalf waarmee hy moes saamleef. Hy het behandeling gekry by die staatshospitaal (die destydse Johannesburg Algemene Hospitaal) aan die anderkant van die stad, wat beteken het dat ek ‘n oggend of ‘n middag by die werk moes afneem om na om te laat omsien. Vir my eie behoeftes, moes ek Roodepoort toe ry om die onkoloog daar te sien. My lewe was ‘n nagmerrie van mediese probleme.

Daardie jare se gesukkel om deur my werksdag te kom, om my finansies te balanseer, om my skoonma se eiesinnige en selfsugtige seun sober te hou en my eie ma te probeer opvoed in die kuns van leef as lid van ‘n gesin waar sy nie die baas van die plaas is nie, het bomenslike krag geverg. My ma het gereeld aangekondig dat sy vir haarself ander blyplek gaan kry, al is dit in ‘n mátjieshuis, en ek sou natuurlik sorg vir privaatverpleging vir haar. Dis oukei, het ek saamgestem, maar net solank as wat sy self betaal vir al hierdie luukshede.

Dis geen wonder dat ek daardie dag in die dokter se spreekkamer soos ‘n spreekwoordelike vulkaan uitgebars het nie. Hy het geduldig aan die anderkant van sy lessenaar gesit en luister na my geweeklaag, net elke nou en dan sneesdoekies nader geskuif vir die stortvloed snot en trane wat op sy lessenaar gereën het. Toe ek uiteindelik myself onder bedwang kon kry, het hy my my uitgevra oor my huislike omstandighede.

Hoekom woon jou eksman in jou huis? Omdat hy geen ander heenkome het nie. Nie eens sy eie ma wil na hom omsien nie. En nee, ek kan nie van hom ontslae raak nie, nie net omdat ek bang is dat my kinders my kwalik gaan neem as ek hom uitskop nie, maar omdat hy doodeenvoudig sal aanhou om terug te kom. Dis nog ‘n ding wat ek nie maklik kon vergewe nie, want as Daniel vir homself kon sorg soos wat hy veronderstel was om te doen, en nie sy pensioengeld uitgemors het op stront nie, kon ek my ma met gemak onderhou het. So, ja, dit was in ‘n groot mate ook sy skuld dat my ma na 'n versorgingsoord toe moes gaan.

Hoekom woon jou ma ook by jou? Want niemand anders wil na haar kyk nie en die versorgingsoorde vir bejaardes wil haar nie inneem nie omdat sy ouer as tagtig jaar oud is en nie aan die “regte” kerk behoort nie en buitendien is hulle oorvol. (Al die tehuise in daardie omgewing word deur kerke bestuur.) Hulle sien ook nie regtig kans vir “moeilike” oumense nie, want hulle personeel is nie daarvoor opgelei nie. En as my ma in die eerste plek nie so moeilik was nie, en as ek nie so lewensmoeg gevoel het nie, sou ons almal met ‘n beter gesindheid kon saamleef as gesin. So, ja, Daniel was nie die enigste skuldige nie.

As. As is verbrande hout en ek moes ‘n keuse maak.

Toe het die dokter weer die telefoon opgetel en reëlings begin tref om my ma in die versorgingsoord vir bejaardes te laat opneem sodra sy ontslaan word uit die hersteloord. Ek dink hierdie wonderwerker het ‘n spesiale towerstokkie gehad, of dalk ‘n paar aandele in die tehuis, want die einde van daardie week nog het my ma in ‘n versorgingsoord baie naby my huis ingetrek, ondanks die “verkeerde” ouderdom en kerkverband.

My ma was negentig jaar oud, 'n baie moeilike ouderdom om oorgeplant te word, maar ek het 'n dringende blaaskans weg van my verantwoordelikhede nodig gehad.

Van nou af sou my lewe baie makliker wees.

Só het ek gedink.


Hooffoto: KI Illustrasie 'n hut gemaak van riete en gevlegte grasmatjies wat deur die inheemse bevolking gebruik is.

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

10 Comments

  1. perdebytjie

    Sjoe Hester, jy het ‘n woeste tyd beleef!

    Reply
    • Hester Nel

      Ja Bytjie, ek weet wraggies nie hoe ek hierdeur gekom het nie.

      Reply
  2. Lana Wood

    Ai toggie Hester, wat ‘n stresvolle situasie het jy jou in bevind. Dit was sowaar swaardra aan beide kante.

    Reply
    • Hester Nel

      Geen wonder my rug is so krom nie, Lana, maar ‘n mens verstaan nie hoe swaar jou las is voordat jy dit neersit nie, nê? Dis hoekom ek nog altyd so bevrees was dat ek op my oudag ‘n las gaan wees vir my kinders.

      Reply
  3. Anoniem

    Ek geniet jou beskrywende vertellinge baie. Ek kan dit voor my sien afspeel. Sjoe jy is omtrent deur die dorsmasjien van die lewe met tjol van alle kante. Ek het begrip…
    Ek stuur liefde, Bondels

    Reply
    • Hester Nel

      Ja, jy verstaan Bondels, want jy is ook deur die meule, al was ons omstandighede nie eenders nie.

      Reply
  4. Tannie Frannie

    Jy vertel jou verhaal so nugter en boeiend – dankie daarvoor, Hester. Wat ‘n wonderlike dokter/lewensbegeleier!

    Reply
    • Hester Nel

      Ja hy was eintlik reeds afgetree, maar hy het soms ingestaan as locum wanneer die ander dokters dringend iewers heen moes gaan. Ek het hom net daardie een dag ontmoet.

      Reply
      • Tannie Frannie

        Die vertroude huisdokter … Baie van ons was gelukkig genoeg om een (of meer) in ons lewens te gehad het.

        Reply
        • Hester Nel

          Ja, en hulle het alles geweet en alles self gedoen van mangels uithaal tot babas vang. En dan het hulle geluister hoe jy huil oor die klappe wat die lewe uitdeel, en ons vasgehou, (want “me too” was nog nie eens ‘n begrip nie), tot ons beter gevoel het.

  5. scrapydo2.wordpress.com

    Hester, ek kan net my kop skud. Hoe het jy dit reggekry om dit te oorleef? Geloof, krag van Bo. Ek dweep nie met geloof nie maar dis regtig wat mens staande gehou het. Daardie vraag hoekom jou ex by jou bly klink so bekend. Ek’s baie bly dat jy vandag rustiger en gemakliker deur die lewe kan gaan. Jy is ‘n juweel om alles so te hanteer. Sterkte met die vertel van die verdere gebeure. Alles raak ‘n mens so diep.

    Reply
    • Hester Nel

      Dankie Scrapy, ek is altyd bly om jou hier te sien, want ek weet jy verstaan baie van die dinge waaroor ek praat.

      Reply
      • scrapydo2.wordpress.com

        Ek is netso bly vir elke stuk wat jy hier deel. In die stilligheid ondersteun jy my ook met al jou gedagtes.

        Reply

Talk to me | Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors