Die lewe by die see het geblyk presies te wees waarna ons gehoop het toe ons ons nuwe lewenswyse so halsoorkop aangepak het. Ons woonstel was net ’n halwe kilometer weg van die pragtige strand met die louwarm water van die Indiese Oseaan met sy helder kleurpalet wat verander het van turkoois, siaan en akwamaryn na ‘n dieper ultramaryn, afhangende van die tyd van die dag.
Die somerweer het saamgespeel, en ons het ons dae deurgebring deur oor die lang sandbanke met die growwe, goue sand tussen die groep strande tussen Ifafa en Mtwalume te stap. Ons het in die getypoele geswem wanneer die gety hoog was en met laagwater skulpe in die vlak poele gesoek. Die kinders het selfs probeer visvang van die strand en die rotse af.
Omdat die gebied so afgeleë was, het ons baie min mense op die strande teëgekom, en ons het die groter dorpe net besoek wanneer ons inkopies moes doen of biblioteek toe wou gaan. Ná die gewoel en gejaag van die stad en die korporatiewe lewe was dit presies wat ons nodig gehad het. Ons kon voel hoe ons liggame van die spanning ontslae raak. Ons het fikser as ooit geword, en my gesondheid het met rasse skrede verbeter. Hoe minder mense ons gesien het, hoe gelukkiger was ons. Ek dink ons was eintlik gemaak vir hierdie asketiese lewenswyse.
Daniel was die uitsondering: ’n partytjiedier. Weens sy rugprobleme het hy dit moeilik gevind om met krukke op die strand rond te beweeg. Hy het homself besig gehou met wandelinge in die tuin wat so te sê geen grense gehad het nie, aanlyn speletjies op sy rekenaar gespeel of TV te kyk. Hy was van nature ’n baie sosiale mens, en hoewel ons uitstappies winkels toe en na restaurante op die strand welkom was, het dit nie in sy behoefte aan geselskap voorsien nie.
Langsaan was hulle besig om geboue op te knap wat soos ’n hotel of oord met selfsorg-eenhede gelyk het. Toe ek een dag ’n motor sien stilhou en ’n vrou begin het om kruideniersware uit te laai, het ek oorgeloop om myself aan Sheila voor te stel. Sy het geblyk die nuwe eienaar van die oord te wees. Binne ’n paar minute nadat ons ontmoet het, het ek besef dat hierdie vrou, met haar warm en hartlike persoonlikheid, ’n uitstekende vriendin vir Daniel sou wees. Ek het toestemming gevra om hom oor toe te stuur vir ‘n kuier.
Ek was reg. Daniel het van die begin af by Sheila en haar gesin tuis gevoel, en nou het hy nog 'n groter gebied gehad om saam met Genis, sy skoothondjie, te verken. Sheila het sy behoefte aan geselskap verstaan en hom ook toegelaat om met die werkers bevriend te raak. Hy het hulle gehelp om ’n kruietuin aan te lê en het ongevraagd raad uitgedeel oor die plant van vrugtebome. Op die ou end het sy eie gesin hom baie min gesien, maar ons het geweet hy was veilig in Sheila se oord, wat hoofsaaklik vir Moslems voorsiening gemaak het en ’n halal-inrigting was, met die gewone beperkings op alkohol. Dit was die ideale situasie vir hom én vir ons. Ek kan Sheila nooit genoeg bedank vir die ondersteuning wat sy ons gegee het gedurende die tyd wat ons langs mekaar gewoon het nie.
Corné het ’n paar maande aangebly, maar moes uiteindelik terug gaan Johannesburg toe. Karen en ek was ook hard aan die werk aanlyn, en kort voor lank het ons ’n paar nuwe kliënte op die boeke gehad, hoewel ons steeds met kliënte in Gauteng gewerk het. Een van daardie kliënte het ’n liefdadigheidsgeleentheid beplan en ons gevra om vir ’n naweek Centurion toe te kom. Dit was ’n ideale geleentheid vir my om my ma te besoek, en ek het haar laat weet dat ons die naweek net ná Moedersdag in Mei 2015 daar sou wees.
Volgens alles wat my broer en sy vrou vertel het, het dit goed gegaan met my ma in die versorgingsoord. Ek het ’n paar keer met haar oor die telefoon gepraat, en sy het vrolik en tevrede geklink, maar sy het natuurlik nie jonger geword nie. Ek het hierdie rusperiode regtig nodig gehad om my liggaam en gees kans te gee om te rus en te herstel, en daarom was ek dankbaar vir die geleentheid om nou ’n bietjie tyd saam met haar deur te bring. Ek het belowe om vir haar die skulpe en klippies te bring wat ons op die strand opgetel het en waarin sy baie belanggestel het, en ons het ’n collage van foto’s vir haar saamgestel.
My broer het gedurende ’n telefoongesprek die week voor ons vertrek genoem dat my ma vir hom gesê het sy wag vir Hannie om haar te kom haal. Die enigste Hannie wat ek geken het, was haar veel ouer suster wat baie dekades tevore oorlede is. Ek het haar skaars onthou. Hierdie storie het my ’n bietjie bekommerd gemaak, maar volgens hom het dit goed gegaan met my ma, al was sy miskien ’n bietjie deurmekaar. Op byna 97-jarige ouderdom was ’n bietjie verwarring van die sinne seker te verstane. My ma het steeds in ’n hiernamaals geglo en gehoop om met haar geliefdes wat reeds heengegaan het, herenig te word.
Toe ons laat Vrydagmiddag land, was daar ’n SMS van my skoonsuster waarin sy my dringend versoek het om reguit na die versorgingsoord te gaan, wat ek gedoen het. Dit het geblyk dat my ma daardie middag onverwags in ’n koma begin wegsak het en nie meer gereageer het nie. Ek het met haar probeer praat en haar gesmeek om haar oë oop te maak, maar daar was geen reaksie nie. Toe sien ek die groot sweetdruppels op haar gesig vorm en teen haar nek afloop. Ek het die dik serp losgerol en die knope van die bedjassie oopgemaak waarin haar deurweekte liggaam geklee was. Sy het dadelik begin bewe van die koue, en ek het haar weer aangetrek. Ek het so hulpeloos gevoel, maar wat kon ek doen?
Die mediese personeel by die verpleegstasie daar naby het my vermoede bevestig dat sy nie weer sou wakker word nie. Hoewel hulle oortuig was dat sy besig was om weg te kwyn, wou hulle nie voorspel hoe lank sy in dieselfde toestand kon bly nie. Ek was in ’n verknorsing, want ek moes Karen Pretoria toe neem vir die gereëlde geleentheid en haar by die hotel aflaai. Ek het besluit om ’n kans te vat en haar daar af te laai, en dan terug te kom na die versorgingsoord.
Met my aankoms by die hotel het ek ’n oproep ontvang — my ma is oorlede gedurende daardie kort halfuur wat ek van haar bed af weg was.
Ek het soveel jare na my ma omgesien dat ek amper oortuig was dat sy ver oor die honderd sou word. Tog, toe ek haar vir ’n paar maande alleen gelos het, het sy in ’n koma verval en gesterf. Die ergste van alles was dat sy met vreemdelinge om haar bed gesterf het, terwyl ek minder as ’n halfuur se ry van haar af was.
Vir ’n vlugtige oomblik het ek gewonder of Hannie haar inderdaad op die ou end kom haal het, maar ek was nog altyd ongelowig en het dié gedagte onmiddellik van my afgeskud.
Ek het nie toe gehuil nie. Ek dink nie ek het ooit oor my ma gehuil nie. Maar ek dink ook nie ek het ooit opgehou om oor my ma te treur nie. Ek het lankal gewoond geraak aan hierdie soort stront in my lewe. Om haar alleen te laat op haar sterwensoomblik was maar net nog een van daardie slegte besluite wat ek deur my lewe geneem het, en nog iets waaroor ek skuldig kon voel.
Ek het nou die dag ’n artikel gelees wat deur ’n hospice-werker geskryf is. Sy het vertel dat baie pasiënte blykbaar wag totdat geliefdes die kamer verlaat voordat hulle sterf, asof hulle bewustelik of instinktief op ‘n oomblik wag wanneer hulle alleen is voordat hulle sterf, sodat hulle die familie die ontsteltenis kan spaar word om te sien hoe hulle die laaste asem uitblaas. Baie mense vertel ook dat pasiënte in hul laaste oomblikke oorlede familielede sien of saam met hulle op reis gaan.
Miskien moet ’n mens nie te veel by sulke dinge stilstaan nie, maar dit is ’n interessante waarneming, en ek kon nie help om te wonder of sy enigsins bewus was daarvan dat ek daardie dag daar was nie.
Aan die einde van 2015 het Louis en sy gesin by ons aangesluit vir 'n vreugdevolle gesinsvakansie. Daniel en ek het ons kleindogter vir die eerste keer ontmoet. Dit was ook die eerste Kersfees in 'n lang tyd wat ons as 'n hele gesinseenheid saam deurgebring het, met al drie ons kinders en ons enigste kleinkind onder een dak. Aan die einde van daardie jaar het ons die huurkontrak vir nog 'n jaar verleng. Daar was nog soveel om te sien en te doen, en ons het gedink ons skuld onsself nog 'n jaar se vakansie.
Hooffoto: KI-gestilleerde foto van drie seevoëls op Umzumbe-strand







Hester, jy het haar vir so lank versorg en altyd jou beste gegee. Ek glo sy het geweet jy was daar. Jy het niks om oor skuldig te voel nie. Ek verstaan die nie huil maar lank treur. Ek is jammer dat jy deur soveel hartseer is. Jy is kosbaar bir my, Bondels