M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Homepage

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Tuisblad

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2015 | ‘n Verlengde Vakansie by die See Word ‘n Verblyf in Paradys

Aug 29, 2026 | Journal | 11 comments
Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

'n Verlengde vakansie by die see. Ons het na die KwaZulu-Natalse Laer Suidkus gegaan vir 'n gesinsvakansie, toe ons lewe op die Hoëveld prysgegee, ons verblyf by die see verleng en in die Paradys gebly vir wat ons gereken het ten minste 'n jaar sou wees.

Corné het voorgestel dat ons almal saam as ‘n familie vakansie gaan hou om uit te rus en oor ons toekoms te besin. Wie het die Laer Suidkus, KwaZulu-Natal voorgestel? Ek kan nie eens onthou nie, maar enkele weke later het ek, Daniel, Karen en Corné Margate toe gevlieg en tydelik in ‘n drie-slaapkamerwoonstel ingetrek. Dit was my eerste besoek aan die Laer Suidkus.

Ek het in die verre Noord-Kaap grootgeword en tot nou toe het ons die land vol getrek vir werkdoeleindes, maar het nooit in KwaZulu-Natal gewoon nie. Dit was die winter van 2014 toe ons daar gaan vakansie hou het.

Op hierdie tydstip was die Hoëveld ysig koud en bitter onplesierig — ryp op die grasperk en wind wat deur jou ribbes sny. Ek het nooit regtig deur menopouse gegaan nie en warm gloede soos beskryf deur die meeste vroue, het ek nie juis geken nie. Ek was 50 jaar oud toe ek chemoterapie ontvang het ná ‘n mastektomie, en ‘n jaar daarna het ek ‘n radikale histerektomie ondergaan. Ek is eenvoudig met geweld deur en verby menopouse gesleep. En net die koue het in my lyf agtergebly.

Ek was nooit regtig lief vir die winter nie, maar ná al hierdie mediese ingrepe was my lyf nooit weer in staat om my liggaamstemperatuur self te reguleer nie. Ek het voortdurend koud gekry selfs met die ondervloerse verhitting en elektriese verwarmers wat deur die hele huis geïnstalleer was. Hierdie vakansie weg uit die koue Hoëveld was die beste medisyne ooit.

Die heel eerste dag wat ons op die Suidkus geland het, moes ek swemklere, kortbroeke, T-hemde en sandale gaan koop. Ek kon nie glo dat ek in die winter in die see en getypoele kon swem nie. Ons het ure buite in die warm son deurgebring, roomys geëet op die strand en saans laat buite op die balkon gesit.

Soggens vroeg het ons van strand tot strand geloop om die omgewing te bekyk. Dit was die mooiste deel van Suid-Afrika wat ek ooit gesien het. Ja, ek weet dis eintlik ‘n verraderlike gedagte, want die ewe mooie destydse Kaapprovinsie was ons tuiste vir baie jare.

Ek dink die gedagte daaraan om Suidkus toe te trek het toe reeds ontstaan. Ek sou nooit weer gelukkig kon wees in ‘n ander deel van die land nie. Ek het ook besef dat ek nooit weer kon terugkeer na my ou lewenswyse nie. Net die gedagte daaraan om vroegoggend in die koue op te staan en werk toe te ry verby die gholfbaan bedek met spierwit ryp, het my siek laat voel.

Ek het ook goed besef dat ek nie ons huis in Meyerton, die hele gesin en my ma in die versorgingsoord sou kon onderhou op die pensioenbedrag wat ek in die toekoms sou ontvang indien ek nie meer sou werk nie. Die versorgingsoord se losies alleen het my ‘n hele paar duisend rand per maand uit die sak gejaag. Die huis was klaar betaal, maar die munisipale verbruikersrekening was nog ‘n paar duisend rand per maand ekstra.

Die onderhoud van die huis het teen hierdie tyd ‘n fenomenale bedrag beloop, omdat Daniel aangehou het om die tuin te maak en later die hele buurt van vrugte en groente voorsien het. Die huis en die tuin was nou onbekostigbaar. Dit was egter ‘n onbegonne taak om dit by hom tuis te bring dat ons lewenskoste te hoog is. Daniel het laas aan die einde van die vorige eeu ‘n salaris verdien en het eenvoudig geen begrip meer gehad van hoe duur alles geword het nie.

Voeg daarby die verlammende koste van mediese sorg en brandstof wat ek maandeliks moes bybring om vir beide Daniel en my ma te versorg, terwyl ek self nog onkologiese behandeling ontvang het. My bydrae aan my mediese fonds, die een “luuksheid” waarvan ek nie bereid was om afstand te doen nie, sou amper die helfte van my toekomstige maandelikse pensioen insluk.

Daniel is behandel vir velkanker en ‘n verswakking in sy rugwerwels by die destydse Johannesburg Algemene Hospitaal, geleë in Parktown, 55 km van ons huis af; my onkoloog se kantore was in Florida, Roodepoort, 70 km ver. Brandstof was toe reeds nie meer goedkoop nie.

Ons het begin planne maak. Karen was besig om haar klein vryskut-besigheid op die been te bring. Sy het geleer om webtuistes te ontwerp en dieselfde kliënte waarvoor sy destyds gewerk het, is vandag nog in haar portefeulje.

Ek kon my kennis van Microsoft se programme inspan om dokumente op te stel en proeflesings te doen. Google was van die begin af my “go-to” platform om inligting in te samel en meer onlangs het ek AI verklaar as my heel beste vriend. Ons het toe reeds hierdie bron van kennis gebruik om fondse te genereer en ons doen dit nog steeds. Om vir ‘n ander instelling te werk, sou vir altyd ‘n agtergelate herinnering word.

Die vryskutwerk sou ons nooit ryk maak nie, maar dit sou bydra tot my en Daniel se gesamentlike inkomste uit beleggings en pensioene. Ons sou die gordel moes styf trek, maar die besluit was eintlik reeds geneem. “Ma, ons kan liewer arm en gelukkig wees by die see as om baie geld te verdien en ongelukkig te wees hier waar ons nou woon,” was Karen se mening.

Ek moes oor ‘n hele paar hekkies spring om hierdie droom te laat waar word. Eerstens moes ek ander reëlings tref vir my ma. Ek het my broer genader en verduidelik dat ek hom en sy vrou nodig het om my ma se sorg oor te neem, want ek kon dit doodeenvoudig nie meer bekostig nie. As gevolg van my voorsiene laer inkomste en my verswakkende fisiese toestand, moes ek ‘n ander plan maak.

My vindingryke skoonsuster het ‘n versorgingsoord baie naby hulle huis op die Oos-Rand gevind wat bejaardes teen ‘n nominale koste versorg. Algemene mediese sorg was ingesluit, en daar is in ag geneem dat my ma slegs ‘n staatspensioen tot haar beskikking gehad het. Die sorg was van uitstekende gehalte en ons kon dit waarlik bekostig om bykomende kostes, soos doeke vir verswakte bejaardes, te dek.

Wat my en Daniel se mediese sorg aanbetref, moes ons seker maak dat die staatshospitaal nader aan ons voorgenome blyplek sou wees en dat Daniel se lêers oorgeplaas kon word. Vir myself het ek gou genoeg die privaat hospitale en dokters in privaatpraktyke opgespoor wat my van die nodige sorg kon voorsien.

Ek het die taak om my ma in te lig oor ons vertrek en haar verblyf in ‘n ander versorgingsoord op my skouers geneem. Ek wou seker maak dat sy gerieflik sou wees in die nuwe tehuis en dan sou ek haar met verdrag gewoond maak daaraan dat my broer en skoonsus nou haar primêre versorgers sou wees.

My ma het in Oktober 2014 haar laaste verjaardag in die ou versorgingsoord deurgebring. Sy was toe reeds 96 jaar oud.

Ons het begin om te soek na ‘n afslaer wat die meeste van ons meubels en toerusting namens ons kon verkoop, asook ‘n huisagent wat ons kon help om die huis in die mark te sit. Daniel het vasgeskop, veral toe ons begin het om die gereedskap in die oorvol garage uit te sorteer, maar ons was vasberade om ons besittings af te skaal. Ons wou trek met so min as moontlik besittings. 

Tot ons verbasing is die huis vinnig verkoop, en ek en Karen moes dringend gaan soek na verblyf. Tot ons vreugde het ons in ‘n klein kusdorpie die ideale woonstel gevind in ‘n kompleks waar ons die enigste inwoners sou wees omdat die omringende woonstelle uitgehuur word as vakansie woonstelle. Hierdie eienaar wou egter permanente inwoners in sy woonstel plaas. Ons idee was om vir ‘n jaar daar te woon en vakansie te hou omdat ons die rus broodnodig gehad het. Daarna sou ons ‘n besluit neem oor ons toekoms.

Intussen het ons nog naweke my ma gaan besoek in die nuwe versorgingsoord waar sy heel in haar skik was met haar nuwe kamermaat. Ons is verseker dat sy sonder teenkanting aan tafel geëet het, geen probleem gehad het met die dieet nie en goed oor die weg gekom het met die ander inwoners en die personeel. Sy het wel uitgevra hoekom sy in die nuwe plek geplaas is en ek het verduidelik dat ek moes weggaan, maar dat ek sou kom kuier. Intussen kon sy lekker kuier saam met haar geliefde seun en sy vrou.

Ons het op 1 Januarie 2015 vroeg die oggend twee karre gepak en is weg Suidkus toe met ‘n kat, ‘n hond en ‘n voëlkoutjie as ekstra bagasie in my klein Panda om die meubelwa in te wag. Corné het die res van die los bagasie en vir Daniel in sy motor gelaai.

Ons het betyds in die klein kusdorpie genaamd Elysium aangekom om die pragtige uitsig oor die strand en die Indiese Oseaan in daglig oor die woonstel se balkonmuur te aanskou.

In Homerus se Odyssee was Elysium die paradys wat vir die geseëndes gereserveer is.

Ja, hierdie is waarlik die Paradys, het ons besluit.


Uitgeligte beeld: KI-gestileerde foto van die uitsig vanaf ons balkon oor die welige plantegroei, strandmeer, sandbank en die golwe van die Indiese Oseaan. Ek was op pad in die rigting van die strand vir ons daaglikse uitstappie.

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

11 Comments

  1. Tannie Frannie

    Dis waar ek jou leer ken het, Hester – my blogmaat en haar dogter wat gereeld oor die goue sand van die Natalse kus gaan stap het

    Reply
    • Hester Nel

      Dis reg. Dis die eerste keer in my lewe wat ek tot rus gekom het en tyd gehad het om met ander mense te gesels, behalwe oor die onderwerpe van werk en oorlewing. Deur te blog het my lewensuitkyk verbreed.

      Reply
  2. perdebytjie

    Jou ervarings van daardie tydperk, was altyd vir my so interessant.

    Reply
    • Hester Nel

      Jy meen daar byrie see – elke vrou behoort die helfte van haar lewe ‘n beach comber te wees. Daar is geen beter medisyne vir ‘n swaar hart en ‘n uitgerafelde siel nie Bytjie. Ek dink jy voel dieselfde oor die wildtuine en die oop ruimtes wat jy en jou wederhelfte so graag opsoek.

      Reply
  3. Anuk

    ‘Een paradys wat vir die geseëndes gereserveer is’… Ik krijg kippenvel bij die woorden, Hester. Na alles wat Karen en jij hebben meegemaakt, kom je hier terecht. ‘Ieder mens krijgt wat zij verdient’ – deze plek was jullie dus meer dan gegund. Als ik de foto zie, begrijp ik het gevoel helemaal

    Reply
  4. Positief

    Dis ook waar ek jou leer ken het en altyd beny het. Die lekker bly langs die see, min wetende watse duwweltjie-pad jy gestap het om daar uit te kom. Wys jou net, mens weet nooit waardeur iemand anders gaan nie.

    Reply
    • Hester Nel

      Dis waar. Baie mense wat destyds daar by die see kom aftree het, het vir ons soortgelyke verhale vertel. Dis lekker om te dink dat daar ‘n plek is waar jy op jou oudag so kan rus en “vervel” tot jy voel na ‘n nuwe mens.

      Reply
  5. scrapydo2.wordpress.com

    Gou eers Elysium gaan opsoek om te sien waar dit is. Ons het meer die Noordkus gekies omdat dit nader aan Secunda is. Die see vakansies was ook altyd my beste tye. Dis so lekker of goed om te lees dat ‘n beter tydperk kon aanbreek vir jou en jou geliefdes. Selfs ook dat jou moeder op die einde gelukkig was. My ma het op einde ook in Ouetehuis gebly wat sy geniet het omdat daar mense om haar was wat met haar gekuier en gepraat het. Sy het in afsodering by suster gebly. Nie regtig enige mense wat gekuier het behalwe die skoonmaker, waarvoor sy op einde bang was. Haar laaste tydjie was vir haar lekker. Ek het ook elke middag na skool gaan kyk hoe dit gaan en toegesien dat sy haar spesiale houertjie yogurt of vrug geëet het. Nou verlang ek sommer na haar. Ons het mekaar, jy by die see en ek in die Bosveld, op blog leer ken.

    Reply
    • Hester Nel

      Ek onthou die tyd toe ons saam aan blog-uitdagings begin deelneem het. Dis ‘n seëning om mense te ontmoet wat soos jy voel en dink, al is dit op ‘n groot afstand. Ek het gewonder hoekom jy so stil was die afgelope week of twee; ek hoop dit gaan goed!

      Reply

Talk to me | Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors