M

Explore

  • Introduction
  • Journal Entries
  • Homepage

Follow me:

Share This Page:

M

Verken

  • Inleiding
  • Joernaalinskrywings
  • Tuisblad

Volg My:

Deel Hierdie Bladsy:

2007 | Die Jaar Toe my Bejaarde Ouer Ingetrek en ons Brose Vrede Verpletter is

Jul 14, 2026 | Old Age, Journal | 3 comments
Illustrasie van drie vroue uit verskillende generasies wat deur gevlegte hare verbind is, wat herinnering, erfenis en verbondenheid in The Braided Echo verteenwoordig
Echoes of lives woven together
Eggo's van verweefde lewens

Om vir 'n bejaarde ouer tuis te sorg, het beteken dat ons gesinsgrense moes hersien en leer om die stres van versorging te hanteer. Die brose vrede in ons huis het verder ontrafel as gevolg van verskille wat verband gehou het met geloof, afstand en lank gekoesterde wrokke. Om 'n huis te deel met ‘n bejaarde ouer het daardie verskille na vore gebring en my gedwing om grense te stel wat ek lank vermy het.

In my ouerhuis, het ons hele gesin van tien broers en susters verkies om die huis te verlaat so gou as wat ons selfonderhoudend was. Dit het baie te doen gehad met tradisie gedurende daardie jare, en ook omdat ons geslag besef het hoe duur dit was om 'n huishouding met soveel afhanklikes te onderhou. Nog 'n beslissende faktor was die streng godsdienstige beperkings en dissipline waaraan ons as kinders onderwerp is. Dit was nie in alle huishoudings die geval nie, maar ons ouers was bykans fanaties godsdienstig en het daarop aangedring dat ons ook hierdie Bybelse gebooie moes volg. Ons kinders het daarteen geskop deur so gou as moontlik die nes te verlaat, want redenasies oor godsdienstige gebruike is doodeenvoudig nie toegelaat in ons huis nie.

Kort nadat ek, die jongste en laaste lid van die gesin wat nog in die huis was, 'n werk in die plaaslike tak van 'n kommersiële bank aanvaar het, het my pa afgetree en ons ouers het ingetrek by my oudste broer wat op daardie stadium nog ongetroud was. My pa was toe reeds 68.

Selfs aan die einde van sy lewe, twintig jaar later, het my pa hardkoppig geweier om na 'n verpleeginrigting of tehuis vir bejaardes te trek. Toe hy in 1990 oorlede is, is my ma sonder 'n behoorlike inkomste gelaat. Sy was 17 jaar jonger as my pa, steeds relatief jonk, maar te oud om weer die arbeidsmark te betree, aangesien sy in elk geval nie die nodige kennis en opleiding gehad het nie. Sy en Daniel het mekaar soos gif gehaat, en solank ons getroud was, het sy nooit by my gewoon nie. Die oomblik toe ons geskei het, het sy egter by my ingetrek. Dit was van die begin af 'n ramp. My kinders is nie grootgemaak in die beginsels van die godsdiens en kerk wat sy soveel jare lank aangehang het nie, en wou niks te doen hê met haar soort dissipline en beperkings op hul optrede nie. Ek het gesukkel met die nadraai van 'n uitputtende egskeiding en die voordurende struweling met 'n eks-man wat net nie wou laat gaan nie. Ek het 'n oorplasing na Bloemfontein aanvaar om van hom af weg te kom, en kort daarna het my ma uitgetrek.

Twee van my broers het haar op verskillende tye gehuisves, maar my oudste broer is getroud net nadat my ma die laaste keer uit sy huis getrek het, en sy het nie met enige van haar skoondogters oor die weg gekom nie. My halfsusters (my pa se dogters uit sy eerste huwelik) het belangstelling in my ma se versorging verloor nadat my pa oorlede is; sy was immers nie hul biologiese ma nie. Sy het haar toenemend tot haar kerkgemeenskap gewend vir ondersteuning.

Toe my oudste broer oorlede is, het my ma verblyf gevind by 'n weduwee wat ook aan dieselfde kerk behoort het. Nettie (nie haar regte naam nie, maar een wat ek vir hierdie storie gekies het) het baie goed na my ma omgesien. Ek het 'n maandelikse finansiële bydrae gemaak, en my ma het haar ouderdomspensioen bygedra tot die huishouding. Toe ek kort daarna met borskanker gediagnoseer is, was ek tevrede dat my ma goed versorg word; ek kon my aandag aan my behandeling en herstel wy.

Maar natuurlik werk dinge nooit so goed uit soos jy dit graag wil hê nie, en Nettie is in 2007 met bloedkanker gediagnoseer. My bejaarde ma sou by my moes intrek, want waar anders kon sy gaan? Die tehuise vir bejaardes is altyd oorvol, en my ma het vir baie jare nie in dieselfde distrik as ek gewoon nie, so daar was geen kans dat ek op kort kennisgewing 'n plek vir haar in 'n sorgfasiliteit sou kry nie.

Ek het vooraf geweet dat my ma ontevrede sou wees met Daniel terug onder my dak. Ons het nie aan 'n kerk behoort nie, en ook nie die soort dieet gevolg waaraan sy gewoond was nie. My ma was oortuig daarvan dat sy aan prikkelbare dermsindroom (IBS) ly en 'n spesiale dieet moes volg. Destyds het ek eerlikwaar geglo dat die meeste van haar gesondheids- en dieetprobleme net in haar verbeelding bestaan het. Sy het nooit hierdie simptome getoon voordat my broer met dikdermkanker gediagnoseer is, wat tot sy dood gelei het nie. Ek is uiteindelik reg bewys, maar vir 'n lang tyd het die dekbeeldige siekte ons lewens moeilik gemaak.

Volgens haar dieet kon sy slegs groen appels eet wat sy self wou gaar maak (hulle het soms in die mikrogolfoond ontplof omdat hulle nie geskil of gesny was nie). Vir ontbyt het sy vir haarself hawermoutpap gemaak wat óf op die stoof óf in die mikrogolfoond oorgekook het. Ten minste kon sy ook 'n hoenderboudjie met gekookte groente vir middagete eet, maar sy wou hê die hoender moes sonder vel wees en die groente moes sonder sout of speserye gekook word. Vir haar spesiale dieet het sy ook allerhande boererate gevolg: rou knoffel en pietersielie op 'n sny witbrood, gemmer, borrie en vlasaad-tee (gekook in 'n pot op die stoof), en swartstroopmelasse as 'n gesondheidsdrankie. Hierdie gemors het haar maag omgekrap, en sy het aangedring op 'n draagbare toilet in haar kamer, al was daar 'n volledig toegeruste badkamer net oorkant die gang.

Die ergste van alles was die salwe en spoelmiddels wat sy vir haar maagpyn en seer spiere gebruik het: sy het TCP gegorrel, 'n sterk-ruikende antiseptiese middel wat gebruik word vir ‘n seer keel, mondswere en infeksies; kamferolie vir haar seer spiere; en bloekomolie om muskiete af te weer. 'n Dampkring van onaangename reuke het uit die kombuis en haar kamer die gang af gewaai.

Ek en die twee kinders het voltyds gewerk en was heeldag weg van die huis af. Daniel was in beheer van die kombuis en die wasmasjien. Hy het elke dag gekook (my ma se middagete ook) en wasgoed gewas, want Emmy, die huishoudster wie se salaris ek moes verdubbel om die huis skoon te hou met die ekstra werk wat "ouma" veroorsaak het, kon nie kook nie. Beide het gekla en gesteun oor die gemors in die kombuis en die slegte reuke wat die huis gevul het. My ma se wasgoed moes apart gewas word om te verhoed dat die medisyne-reuk aan almal se klere kleef. Daniel het na die reuk verwys as die Egiptiese Grafsalf (balsem-olies, neem ek aan).

Wat my die harnas in gejaag het, was nie dat ons my ma se kos apart moes kook nie, maar dat sy geweier het om saam met die gesin te eet. Emmy moes haar op 'n skinkbord in haar kamer bedien. Daar was niks fout met haar gesondheid nie; sy kon goed loop, maar sy wou net nie saam met ons aan tafel eet nie. Ek het gou die rede hiervoor ontdek toe Daniel op 'n brief afgekom het wat my ma aan haar pastoor geskryf het waarin sy verduidelik het dat sy nie saam met ons kon eet nie, want ons was nie Christene nie – en waarsku die Bybel dan nie dat Christene en heidene nie saam brood moet breek nie?

Ek was heeltemal verbitterd hieroor, want ek ken ook my Bybel goed en kon daarop wys dat Jesus self saam met sondaars en tollenaars geëet het, maar ek het liewer niks gesê nie. Emmy het opdrag gekry om my ma se hawermoutpap soggens vir haar te maak en haar appels gaar te maak in die mikrogolfoond. My ma is gebruik van die kombuistoerusting verbied nadat ek die mikrogolfoond weer 'n keer moes vervang. Emmy sou ook in die toekoms nie haar kos na haar kamer toe neem nie. Van nou af sou die Christen self haar kos in die kombuis moes kom haal indien sy nie by die tafel wou eet nie.

Iewers tussen plig en menswaardigheid moes 'n grens getrek word.


Hooffoto: KI-geïllustreerde voorstelling van 'n leë, ongebruikte plek aan tafel en 'n stoel wat eenkant staan.

WeaverWorx Website Designers

Credits: The Braided Echo website was designed by Karen of Weaverworx. All photographs, illustrations, and graphic elements on this site are created by Karen/Weaverworx. The blog posts are written by Hester, sharing reflections and stories through this space. The website design, images, and overall content remain the creative work and property of Weaverworx.

WeaverWorx Website Designers

Krediete: Die webwerf The Braided Echo is ontwerp deur Karen van WeaverWorx. Alle foto’s, illustrasies en grafiese elemente op hierdie webwerf is deur Karen/WeaverWorx geskep. Die blogplasings is geskryf deur Hester, wat haar refleksies en stories deur hierdie ruimte deel. Die webwerfontwerp, beelde en algehele inhoud bly die kreatiewe werk en eiendom van WeaverWorx.

3 Comments

  1. Anoniem

    Ai Hester, ek geniet jou vettelling so, dis net heeltemal te kort…..
    Jy weet ek dink in prentjies so ek sien alles wat jy vertel voor my afpeel. Dis darem hartseer dat ander se godsdiens soveel skade en seer kan veroorsaak.

    Reply
    • Hester Nel

      Ja, dis nogal tragies dat die leer wat liefde verkondig ons gesin (my ouerhuis) so uitmekaar laat spat het. Te veel van ‘n goeie ding wat verkeerd toegepas word.

      Reply
  2. perdebytjieperdebytjie

    Sjoe Hester, sy het omtrent julle lewens ontwrig! Ek onthou toe my ouma by ons gewoon het, was daar ook sulke dinge wat sy aangevang het en almal ontstig het.Wat is dit tog met sommige oumense? Ek hoop nie ek raak eendag so nie.

    Reply
    • Hester Nel

      Joe Bytjie, praat jy nou! Ek probeer om al hierdie soort slaggate van my ma te vermy, maar ek is seker ek het my eie foute wat my kinders teen die mure uitdryf.

      Reply
  3. Tannie Frannie

    Weer eens is ek sprakeloos. met groot hartseer …

    Reply
  4. scrapydo2.wordpress.com

    Dit is nou weer ‘n ander tammaletjie, wat nie sommer opgelos word nie. Daardie oor Christelike ouer mens is ook moeilik om te hanteer. My pa was ‘n atiis(spelling?) Toe word daar vereis dat ons drie kinders, eers gedoop en dan aangeneem word. Die doop, as volwassene, was vir my as mens wonderlik maar daardie kerklike neerhalende aanmerkings van Christene bly my steeds by. Pa wou ook nie versorging hulp hê nie. Sy laaste twee weke is hy op einde in hospice opgeneem en steeds vuurvreter soos altyd. Baie moeilik. My ma was die liewe geduldige persoon tot op laaste. Beide ouers het by jongste suster gebly omdat sy ongetroud was wat vir haar ook baie moeiilik was met tye, veral met my pa.

    Reply
    • Hester Nel

      Is dit nie eienaardig dat daar in ‘n verhouding altyd ‘n moeilike persoon en ‘n geduldige persoon is nie? Is dit veronderstel om ‘n balans te skep. Ek wonder hoeveel verhoudings is daar wat werklik 50/50 gebalanseerd is. En godsdiens is dikwels die trigger wat elke ontploffing vooraf gaan. Ek kan nie besluit of godsdiens net ‘n verskoning is om te verseker dat die “moeilike” persoon altyd sy/haar sin moet kry nie.

      Reply
      • scrapydo2.wordpress.com

        Nogal waar van moeilike en gematigde persoon. Dis egter ook baie veranderlik. Ek het ‘n redelike ondervinding van sielkundiges en gelowige(kerklike) agtergrond. Baie geleer oor hoekom mense optree soos hul doen. Godsdiens en geloof het my laat wegbreek omdat ‘n mens maklik gemerk word as …. wat ook al. Ag jong ek kan boekdele skryf. As mens nie regtig in die omstandighede is nie kan jy nie indink wat so ‘n persoon regtig deurmaak en hoekom nie.

        Reply

Talk to me | Praat met my

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

About Me

People like to say everything happens for a reason. I have yet to find the reason that explains dementia, divorce lawyers, hospital corridors, or the look in a child’s eyes when she realises her parent is not invincible. I write because it helps me think.

This is how I live my life. It is not a tragedy. I am not brave. I am practical. I get up. I show up for chemo. Some days I am angry. Some days I cry. Some days I laugh at the absurdity of it all. Most days I am just tired.

Portrait of Hester, the author of The Braided Echo, smiling and wearing a straw hat

Oor My

Mense sê graag alles gebeur met ’n rede. Ek moet nog die rede vind wat demensie, egskeidingsprokureurs, hospitaal gange, of die kyk in ’n kind se oë wanneer sy besef haar ouer is nie onaantasbaar nie, kan verklaar. Ek skryf omdat dit my help dink.

Só leef ek my lewe. Dit is nie ’n tragedie nie. Ek is nie dapper nie. Ek is prakties. Ek staan op. Ek daag op vir chemo. Party dae is ek kwaad. Party dae huil ek. Party dae lag ek oor die absurditeit van dit alles. Die meeste dae is ek net moeg.

Subscribe to Blog via Email

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Search

Search

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors