Ons het voorheen graag naweke ontspan en ontstres en ons het probeer om die twee nuwe lede van die gesin te betrek. Uitputting en tuisversorgingstres het ons pogings om te leer om as 'n gesin saam te leef, ontspoor. Ek het skaars opgemerk hoe naby ek self aan breekpunt was.
Ek en die kinders moes soggens vyfuur uit die vere wees om te bad en aan te trek vir werk gedurende die week. Sesuur was ons reeds in die verkeer op pad na Johannesburg middestad waar ons gewerk het tot vieruur. Dan het ons weer 50 km ver terug in die verkeer geswoeg om so teen ses-uur se kant by die huis te wees. In die winter het ons selde son gesien deur die dag.
Daniel en Samuel was heeldag doenig in die tuin wat hulle regtig in ‘n lushof omskep het. Emmy en my ma het hulself besig gehou in die huis. Emmy het skoonmaakwerk gedoen en vir “ouma” geselskap gehou. Dit was haar vernaamste werk. My ma het gelees, handwerk gedoen, na musiek geluister en graag TV gekyk. Beide Samuel en Emmy se werksdag het gestrek van agtuur tot drie-uur. Dit het beteken dat daar sekere ure in die dag was wat Daniel na my ma se veiligheid moes omsien. Hy het ook die kos gekook.
Naweke was Daniel se “rustyd”. Ek het nie ‘n amptelike rustyd gehad nie, maar nou ja, na al die jare van huisvrou wees, kinders grootmaak en geld verdien, was ek gewoond aan hierdie soort lewe. Duisende Suid-Afrikaanse vroue was in dieselfde posisie, en my enigste voorwaarde was dat Daniel naweke saam met die gesin sou ontspan. Vir hom was daar geen rugbywedstryde en kuiertjies saam met kroegvlieë nie.
Wanneer ons Saterdae of Sondae tydjies kon afknyp, het ons rondgery in die omtrek. Ons het graag kwekerye besoek om na plante kyk, of tyd in die natuur deurgebring. Daar was ‘n natuurreservaat naby ons, en ons het menige naweek gaan kyk na die diere wat vrylik in die natuur aangehou is, of ons het vleis gebraai in die piekniekarea.
Net ‘n entjie van ons af was daar ‘n voëlpark waar ons kon rondloop en voëls voer.
Ons was naby aan die boeremark waar ons Saterdae groente en pakke soetkoekies gekoop het, reptieluitstallings bygewoon het, by die restaurant geëet het of die donkies gevoer het. Hier, waar Daniel voortdurend onder ons oë was, het ons saam tuisgebroude bier gedrink. Daar was nog steeds ‘n verbod op alkohol in ons huis.
Met verloop van tyd het ons my ma by hierdie uitstappies begin insluit, wetende dat die kort ry-afstande haar nie sou uitput nie.
Ons gesin het ook ‘n bietjie uitgebrei. Behalwe vir Ollie wat jare saam met ons was, en Bazil wat in 2007 deel van ons familie geword het, het Tina, ‘n Alsatian kruising van onsekere afkoms, Genis, ‘n kruising tussen ‘n Jack Russell en ‘n Maltese poedel en Ponsie, die kat wat in ‘n stormwaterdrein gebore is, hulle intrek in ons huis geneem. Dit was die harige deel van ons familie. Dan was daar ook ‘n klomp geveerdes wat nes gemaak het in ons bome buite in die tuin, en twee duifies wat hulleself tuisgemaak het op die gordynkappe binne die huis. Daar was lemoenduifies, mossies, vinke, kransduiwe, houtkappers, muisvoëls en ‘n familie vlêrmuise wat verwag het dat ons moet help om hulle kleintjies groot te maak.
My ma veral, het hierdie wye verskeidenheid lewe rondom haar geniet.
Maar nou ja, wanneer ek in die week by die werk was, het alles nie altyd so vlot verloop nie en Daniel was die een lewende siel in die huis waarmee my ma nie kon vrede behou nie. Feitlik elke middag wanneer ons by die huis gekom van die werk af, was daar ‘n volskaalse oorlog aan die gang. Verbeel jou hoe voel dit om op ‘n hete somermiddag ná ‘n 50 km gesukkel deur die Johannesburg-verkeer by die voordeur in te loop, en links van die deur staan jou ma opgeblaas soos ‘n pofadder, blasend en sissend: “Hy is ‘n onbeskofte buffel! Hy het alweer op my geskreeu!” Aan die regterkant laat jou eks-man waai met ‘n teensarsie van: “Sy het alweer my granaatblomme gepluk. Sy weet ek probeer verlede jaar se rekord breek. En ek kweek die vrugte spesiaal vir jou!”
Daniel het die grootste, soetste granate gekweek, wat ‘n kilogram of meer geweeg het, en dan het hy hulle vir my in ‘n bakkie oopgebreek sodat ek net handevol kon uitskep en in my mond prop om daaraan te smul. Hoekom pluk sy altyd daardie spesifieke boom se blommetjies? Daar was tog ander rooi blomme ook. Maar my ma is nou amper 90 jaar oud en dalk vergeet sy. “Vader, gee my genade,” bid die heiden, maar genade was maar skaars en al wat ek wil doen is om my swaar handsak neer te gooi op die rusbank en toilet toe te skuifel, knieë teen mekaar, voordat my blaas ontplof. Maar daar staan ek in die middel en nou moet ek vrederegter speel, want albei dring daarop aan om hulle saak te stel.
“Ma, hoekom pluk jy die granaatboom se blomme? Jy weet dat as jy die blomme pluk, gaan daar nie granaatvrugte wees in die somer nie.”
“Ja, maar ek wou die ou mooi rooi blommetjies op die eetkamertafel neersit vir jou om te sien hoe pragtig hulle lyk.” En dan vloei die trane.
“Sy is net aspris, dis wat!” En verontwaardiging beklemtoon elke woord.
Wanneer ek geweier het om kant te kies, het my ma haar teruggetrek in haar slaapkamer, toe deur, toe gordyne. Geen toegang. Daniel het dikbek voor die TV gaan sit. Dan het ek my rekenaar oopgeslaan en begin werk. Dit was een manier om tyd te skep vir myself. Ek kon nooit verstaan hoekom hulle die behoefte gevoel het om vir my tyd en aandag mee te ding nie. Om eerlik te wees, sou ek graag my huis vir myself en my kinders wou hê, wat ek in die eerste plek beoog het toe ek dit gekoop het. Ek weet, dit klink baie selfsugtig, maar dis al wat ek wou hê.
By die werk was ons besig met nog ‘n herstrukturering – die hoeveelste keer? Dan moet jy weer aansoek doen vir jou eie pos en motiveer waarom jy in daardie pos benodig word. “As jy nou nog nie weet hoeveel my dienste vir jou werd is nie, gaan jy nooit weet nie!” Dis wat jy wil gil, maar jy bly stil, want jy is die een wie se salaris die huishouding aan die gang hou, wat die kos koop, wat petrol in die kar gooi. Jy bly stil en sluk die vernedering, want jy is bang jy verloor jou werk, jou inkomste en jou mediese fonds.
My mediese fonds. My lewenslyn. Ek het die hormoonbehandeling voltooi en niks beter gevoel nie. Niemand het meer onthou dat ek kanker gehad het nie en niemand het ooit daaroor gepraat nie, behalwe om my aan te moedig om gewig te verloor. Asof dit so maklik is. Sluk die laaste pilletjie en word maer. Jy is mos nou gesond. Behalwe vir die skeelhoofpyne wat terug is en my teister. Behalwe vir my bloeddruk wat al hoe hoër word en my dokter wat waarsku teen beroerte en hartaanvalle. Ek weeg meer as 90 kg en my voete swel op soos ballonne. Snags kan ek nie slaap nie, en ek loop sleepvoetend om die kombuistafel in ‘n poging om ontslae te raak van die krampe in my bene.
Ek sit saans ná donker in die tuin by die agterdeur en luister hoe klapper my tande op mekaar terwyl ek probeer om nog ‘n paniekaanval af te weer. Here, ek is so moeg.
Een oggend kom ek my ma in die gang teë en staar verstard na die bloederige sak wat onder haar een oog hang. Ek roep na Karen. “Bel die dokter, ek dink Ouma het ‘n beroerte gehad.”
KI-gestileerde foto van 'n granaatvrug en 'n blom.







Ai Hester, nie ‘n pad van rose en sonskyn nie. Kan verstaan hoe moeg jy moes wees.
Ja. Ek wonder net hoekom ek nooit daaraan gedink het om te dros nie.
Jy het behoorlike nie net ‘n stywe opdraende gehad om elke dag verby te kry nie, dit was berge wat jy uitgeklim het net om jou familie, veral kinders, te huisves. Heste, dit sit nie sommer in enige een se broek om onder sulke omstandighede kop bo water te hou nie. Tog het jy krag van Bo gekry om vol te hou. Jy is ‘n vegter. Hierdie terug dink aan omstandighede raak ‘n mens telkens weer as jy daaroor dink. Het jy nooit vir berading gegaan nie? Dis maar net ‘n gedagte. Ek wens ek kan ‘n bietjie by jou kom sit om net lekker te gesels.
Berading? Nee. Dit was die laaste ding op my spyskaart. Teen daardie tyd het ek geen vertroue meer in my medemerns gehad nie en ek is nie ‘n gelowige nie. Wat eienaardig is Scraoy, is dat ek nie besef het watter soort las ek dra voordat ek dit uiteindelik kon neerlê nie.
Ek het daardie selfde ondervinding gehad, eintlik steeds nog as ek oor sekere dinge dink waaroor ek skryf. Ek het in my derde jaar van my huwelik en ondekking van my man se eskapades met vroue by ‘n psigiater uitgekom. Het vir ‘n jaar een laat middag Pretoria gegaan vir berading. Selfs brein golwe goet gekry. Verander van dr en hy neem my op in ‘n inrigting vir 12 dae waar hy my behandel het. Al die medikasie, daardie gesprekke met terapeute en sielkundiges het my in ‘n mate rigting laat kry. Tog, soos jy weet, as jy nie wegbreek van oorsaak kan jy nie jouself wees nie.
Dis waar Scrapy. My manier om “weg te breek” was deur die oorhand te kry in my eie huis. Net die egskeidings-ertifikaat en die vermoë om myself te versorg, het wondere gedoen.
Selfde met my ook. Gelukkig het ek al die jare steeds skool gehou en kon ek myself en my kind versorg, sonder al die aanhangsels wat storms veroorsaak het.
Hierdie keer het ek in die middag gestuur en dit het dadelik deur gegaan. Ek het ook eers die stukkie ge-copy sodat ek dit tog vir jou kan stuur as dit sou wees.
Dis slim van jou om dit eers te copy.
Gedink ek sal my nie weer laat vang nie.
Dis ongelooflik dat jy hierdie moeilike lewenspad suksesvol afgelê het, Hester – saluut!
Ek weet nie of ek sodanig suksesvol was nie, want ek kan jou een ding sê – ek weier om dit weer oor te doen. Geen reïnkarnasie vir my nie, asseblief.