Teen die einde van ons twee jaar-huurkontrak het Daniel se gesondheid weer eens begin agteruitgaan. Teen hierdie tyd kon hy nie meer sonder krukke loop nie, en hy het dit moeilik gevind om die trappe na ons woonstel op die tweede verdieping te klim. Hy het heftig beswaar gemaak toe ek voorstel dat ons die Suidkus verlaat en nader aan die groter hospitale trek, waar neurochirurge en beter skanderingsfasiliteite beskikbaar was, sodat hy beter versorging vir sy rugprobleme kon kry. Hy het geweet dat ’n derde rugoperasie nie ter sprake was nie en het verkies om die hospitaalpendeldiens tussen die Suidkus en Durban te gebruik vir sy ondersoeke en om sy medikasie te gaan haal.
Ons het na ’n woonstel reg teen die strand in die pragtige Mtwalume verhuis, waar Sheila se man ’n woonstelblok besit het wat nog in aanbou was. Hy het aangebied dat ons een van die woonstelle gratis kon gebruik, solank as wat ons daar wou bly. Ons was mal oor die uitsig en moes net oor die straat stap vir ’n vroeë oggend swem in die getypoel, maar toe tot ons verbasing besef ons nie aanlyn sou kon werk nie. In daardie gebied was internet lyne met voldoende data limiete nog nie beskikbaar nie. Ons was bitter teleurgesteld.
Uiteindelik het ons besluit om nader aan Port Shepstone te trek, waar hierdie dienste beskikbaar was en ons ook nader aan die streekshospitaal met sy traumasentrum sou wees.
Maar (daar is altyd ’n maar) die verhuurder en ek kon mekaar eenvoudig nie vind oor verskeie sake nie. Ek het geweier om die “standaard-huurkontrak” te teken, waarvan die klousules geheel en al in die verhuurder se guns was en die huurder in ’n kwesbare posisie sou laat indien daar ’n dispuut ontstaan. Hy het probeer om ’n huurder wat haar regte geken het, om die bos te lei. In 2017 het ek en my gesin daar uitgetrek en ons het ’n geskikte huurhuis net oorkant die rivier in die Sea Park-omgewing gekry.
Dit was ’n dubbelverdiepinghuis met ’n grasdak in ’n sekuriteitskompleks wat ideaal by ons leefstyl gepas het. Al die inwoners was ouer mense, afgetredenes, en dit het Daniel geïnspireer om die kompleks Coffin Dodgers’ Park (CDP) te noem. Volgens hom het die inwoners maar net gewag om dood te gaan of probeer om die graf te ontduik.
In CDP was die huise naby mekaar, en die inwoners kon mekaar groet sonder om eens hul neuse by die deur uit te steek. Natuurlik het Daniel die dames onmiddellik bekoor, die skinderstories opgetel en altyd geselskap gehad. Ek het ’n klein bankie voor die voordeur gesit, en enigiemand wat vir tee wou kom inloer of ’n sappige storie wou deel, was welkom.
Soms het hy verdwyn, maar nooit vir lank nie. Ek moes net na hom roep, en iemand sou my vertel waar hulle hom laas gesien het. Daar was altyd iemand wat ’n ogie oor hom gehou het.
Karen en ek het hierdie geselskap tot ons voordeel gebruik en wanneer ons kon, in die pragtige getypoele by Anerley, Southport en Umtentweni gaan swem. Die strande was so naby aan mekaar dat ons al drie op een dag kon besoek.
Ons het aangesluit by ’n groep mense wat een keer per week vir liefdadigheid gestap het, en gestap hét ons. Tussen vyf en sewe kilometer per dag, elke week op ’n nuwe roete. Hierdie staproetes het die hele kusstrook van Hibberdene tot by Port Edward gedek.
Tussen die geskeduleerde staptogte deur het ons die pragtige nasionale parke besoek. Oribi Gorge was een van ons gunstelinge, en ons het dit dikwels besoek. Karen het haar kamera goed gebruik, en ons het ’n paar hardeskywe volgestop met ons mooi herinneringe. Corné het dikwels kom kuier en met sy hulp kon selfs Daniel gaan visvang van die rotse af.
Gedurende hierdie tyd het ons nog ’n paar kliënte op ons eie internet-bediener gehuisves, en Karen het nuwe kliënte aanvaar, maar ons het selde die Suidkus verlaat en meestal net gewerk wanneer ons lus gevoel het.
Ek was mal daaroor om met ons foto’s te spog en ons stories op my ander blogwerf, Dis Ekke, te deel. Ons het ’n groep skrywers gevorm wat aan bloguitdagings deelgeneem het, met my as die voorloper. Ons het selfs ons eie fantasiedorp gestig, waarheen die bloggers kon ontsnap wanneer die uitdagings van die werklike lewe net te veel geword het.
Dink jou in die nabyheid en liefde tussen ’n groep mense, meestal vroue, van oral oor die land, wat saam skryf en lees en ’n vriendskap vorm wat ons gedink het in beton gegiet was, alhoewel die meerderheid van ons mekaar nog nooit in die werklike lewe ontmoet het nie.
Dink jou in die skok en die seer toe die sand onder hierdie vriendskap begin skuif. Iemand het iets verkeerd gesê, iemand het iets verkeerd gedoen, iemand het ’n breuk veroorsaak... Ek weet nie eens wat werklik verkeerd geloop het nie, maar ek onthou die seer en die skok toe die fantasie teen die einde van 2019 in stukke gespat het.
Dit was die einde van een van die gelukkigste tydperke in my lewe.
Ek het fisies siek en verskriklik uitgeput gevoel. Ek was nog altyd geneig tot neusbloeding, of dit nou die gevolg was van die geringste verkoue of die intense gevoel van verwerping en seer. Ek het glad nie goed gevoel nie en ek het die uitdagings beëindig, van die fantasie af weggestap en my wonde in privaatheid gaan lek.
Ek het ook met die eindelose neusbloeding gesukkel. My huisdokter sowel as ’n ENT-spesialis na wie hy my verwys het, het probeer om die klein bloeiertjies in my neus met silwernitraat toe te brand, maar sonder enige sukses.
En toe gebeur COVID.
My bloedneus en ek het die aand van Goeie Vrydag, 10 April 2020, in ’n privaat hospitaal in Port Shepstone beland. Die dokter in die ongevalle-afdeling het my reguit na die dagkliniek se chirurgiese afdeling geneem, want ek het almal in die ongevalle-afdeling met bloed bespat. Hulle het my op ’n drup gesit en op een of ander manier daarin geslaag om iets wat soos ’n dubbelslaapkamermatras se laken gevoel het, in my neusgang af forseer... wel, só het dit vir my gevoel. Daarna het hulle begin rondbel vir ’n ENT-spesialis.
Maar raai wat? Die enigste ENT wat beskikbaar moes wees, was vir die langnaweek saam met sy familie weg. Hulle het dus my bloedmonsters laboratorium toe gestuur om vir COVID te toets, en vir die volgende vyf dae was ek die enigste pasiënt in daardie chirurgiese afdeling.
Dit was yskoud.
Liewe hemel, ek sal nooit daardie verskriklike koue vergeet nie. Onthou, ná al die jare het ek nog steeds gesukkel met die nalatenskap van die chemoterapie wat verhoed het dat my liggaam sy eie temperatuur behoorlik reguleer. Niemand wou te naby aan my kom nie weens COVID. My toetsuitslae sou eers die daaropvolgende Dinsdag beskikbaar wees. Selfs my dogter is nie toegelaat om my gedurende daardie tyd te besoek nie.
Ek het dus vir Karen op my selfoon gebel en haar gevra om water of enigiets wat ek kon drink by die ingang van die trauma-eenheid af te lewer. Hulle het die water en die eetgoed wat sy gebring het, asook my maaltye, wat in Styrofoam-houers gekom het, vir my met lang uitgestrekte arms afgelewer. Goddank vir daardie dapper verpleegster wat nou en dan opgedaag het om my IV te vervang.
Sonder dat ek daarvan geweet het, het die ENT my telefonies behandel en medikasie voorgeskryf wat deur middel van IV-drup toegedien is.
Hoe in hemelsnaam sou ek COVID kon kry? Ek het aangehou verduidelik dat ons sedert die eerste gerugte oor COVID in afsondering geleef het, omdat ek ’n baie siek man in my huis gehad het. Al ons kruideniersware is afgelewer, ons het onsself eenkant gehou en niemand is toegelaat om ons te besoek nie.
Maar niemand wou nie na my luister nie.
Die laboratorium het vroeg Dinsdagoggend my toetsuitslae deurgejaag, en ek is toegelaat om terug te keer na die beskawing. Ek het vir Karen gebel om my haardroër te bring en ek het op die verpleegsters geskree, en later ook op die ENT wat my kom sien het. Ek was behoorlik vies.
Toe is ek toegelaat om te gaan stort en ek het my hare gewas. Vir ’n slag het ek ’n ordentlike maaltyd en ’n koppie warm tee gekry, en die ENT het belowe dat ek Woensdagoggend eerste in die teater sou wees.
Toe hy my Woensdag sien, het hy vir my gesê ek lyk pragtig. Natuurlik het ek. Ek het ’n langverwagte bad gehad, en my pragtige lang hare is gewas en droog geblaas. Maar ek was nie in die bui vir mooi woordjies nie.
Daarna het hy aan my verduidelik dat die klein bloeiertjies behoorlik toegebrand is en dat hy, as ’n spesiale guns, my voorheen skewe neusseptum in plek gedruk het om te keer dat my neusgang toetrek.
Ek het breed geglimlag, want sover terug as wat ek kon onthou, was een van my neusgange altyd verstop en het ek elke dag neusdruppels gebruik. En hy het die waarheid gepraat. Ek kon vir die eerste keer in my lewe normaal asemhaal.
En kort daarna het ons president toestemming gegee dat ons op die strand mag gaan visvang. Slegs strandgangers wat oor geldige visvanglisensies en visstokke beskik het, is op die strand toegelaat.
Ek het nooit regtig gedink dat visvang ’n sport sou wees waarvan ek sou hou nie, maar laat ek jou vertel: gedurende die volgende paar weke het ek in ’n uitstekende visser verander. Ons was van sonsopkoms tot sonsondergang op die strand.
Niemand in CDP het COVID opgedoen nie, en kort voor lank het ons lewens na normaal teruggekeer.







Ek onthou daardie lekker skrywery en die gans onnodige breuk.
Ja, dit was totaal onnodig Bytjie en dit het gekom op ‘n tydstip toe ander dinge begin skeefloop het in verskillende mense lewens, maar ons het nooit lank genoeg stil gestaan om uit te vind wat werklik verkeerd is en hoekom ons mekaar nie ondersteun het nie. Laat jou wonder of die vriendskap wel so heg was soos wat ons graag onsself wou verbeel.
Sjoe, hierdie stuk het ek nou regtig van begin tot ent geniet. Baie bly daar is toe iets aan jou neus gedoen wat werk. Daardie COVID tyd was ‘n riller maar gelukkig het ek net aan einde wel COVID gehad en daarna nog nooit weer nie. Die blog debakel het ek gelukkig mis geloop. Dit was vir my ook ‘n heerlike uitlaatklep gewees tot daar stryery of wat ook al plaasgevind het. Ek sien nog steeds in my gedagte jou fotos met jou heerlike lope op die strand. Ek dink dit was regtig ‘n geleentyd van ‘n leeftyd wat aan jou lewe toegevoeg is en vandag ‘n verskil gemaak het.
Ja, kyk ek na al ons mooi memories, en ek verdwyn in my happy place.
Selfde hierdie kant.
Ai, Hester, om gou bietjie Ingels te praat: “Recollections may vary” … Soos ek dit het, is Rebusfontein (tydelik?) opgeskort, want jy en Lekkervurig, die stigters en meesterbreine, wou ‘n nuwe kinkel in die kabel gooi. Maar die res van die Towerinne was so besitlik oor ons dorpie, dat ons geweldig gereageer het – let wel, nie “oorgereageer” nie! – en nie wou wag en kyk wat volgende gebeur nie. Gemoedere het vlamgevat en die Goue Vroue het ontstaan. In die proses het Rebusfontein twee besonder vindingryke, skeppende en oorspronklike bloggers verloor.
O ja, come to think of it – Lekkervurig het die dorpie opgeblaas (kan nie onthou hoe of hoekom nie) en ek het nog nie my skryfbeurt gehad nie. Ek het my moer gestrip (in goeie Afrikaans), want ek het gevoel die Towerinne is onnodig ongeskik. Unbeknownst to me, was ek besig om baie siek te word in die regte lewe. Ek het water op my longe gekry en het in die hospitaal beland ‘n paar dae later en ek vermoed my veelgeroemde (befaamde) humeur het handuit geruk. Ek moet hieroor nadink en my dagboek oplees, want dit is ook deel van my joernaal wat ek besig is om te skryf en sover ek kan onthou, het ek myself op daardie stadium heeltemal onttrek en het met ‘n slegs ‘n baie klein groepie mense kontak behou oor daardie tydperk. Ek sal wel by die waarheid uitkom wanneer ek my dagboek raadpleeg. Agterna – wel, ek is bekend daarvoor dat ek baie selde terugloop op ou spore.
Het zal in deze tijd geweest zijn dat wij elkaar ‘ontmoet’ hebben op het www, op Dis Ekke. Van alle schrijfuitdagingen begreep ik toen niet veel, van het fantasiedorp wist ik niets. Maar pijnlijk om te lezen hoe zoiets in het virtuele leven uit elkaar kan klappen – onder volwassen vrouwen. Ik genoot in die tijd vooral van jouw woorden en beelden over het dagelijks leven aan het strand. Wat was ik soms jaloers…
Dit was ‘n wonderlike tyd in ons lewe. Ons het vir amper 10 jaar lank daar gewoon.